MAKLIKE MAROKKAANSE HOENDER
500 g hoenderfillete
olyfolie
2 uie, gekap
1 knoffelhuisie, fyngemaak (opsioneel)
1 teelepel fyn kaneel
1 teelepel fyn koemyn
1 teelepel fyn paprika
1 teelepel gemaalde koljander
1 koppie (250ml) groenteaftreksel (jy kan hoenderaftreksel ook gebruik)
1 blikkie ingelegde tamaties (of sommer tamatie- en uiemengsel)
1 blikkie kekerertjies (chickpeas of garbonzo beans), gedreineer
¼ koppie gekapte mintblare
2 koppies kits-koeskoes
gewone jogurt om te bedien
Meng die speserye, smeer dit aan die hoender en laat dit vir omtrent 1 uur staan, of oornag indien jy van sterk geure hou. As alternatief kan jy klaar gekoopte Marokkaanse “rub” gebruik.
Verhit die olie in ‘n pan en braai die uie tot glaserig en deurskynend en voeg die knoffel by.
Sny die hoender in blokkies en voeg by die uie. Braai tot bruin.
Giet die aftreksel ook by en laat dit wegkook. Roer gereeld.
Voeg laaste die kekerertjies en geblikte tamaties by. Roer goed deur en laat alles deurkook tot die sous lekker dik is. Proe en geur met sout en growwe peper soos nodig.
Maak die koeskoes aan volgens die instruksies op die boksie.
Bedien die hoender bo-op koeskoes met gewone jogurt en vars gekapte mintblare.
Foto: Elsabie Templeton