
KRY DIE BESTE RESULTATE WANNEER JY ETES VRIES
FOOD LOVERS RECIPE
Wanneer sekere bestanddele, bv seisonale groente en vrugte geredelik beskikbaar en goedkoper is, kan ’n mens daardie voordeel ook benut. So kan jy bv tamaties aankoop wanneer dit goedkoop is en vries om later in sop of bredies en souse te gebruik. Dis ook ’n uitstekende manier om bestanddele soos meel, neute en sade te bêre.
Goeie praktyke wanneer kos gevries word, lei tot minder vermorsing en dat die kos steeds in ’n aptytlike manier geniet kan word. Kos moet ook verkieslik nie ontdooi en weer gevries word nie.
Daar is egter ’n paar dinge wat ’n mens in ag moet neem, om die beste resultate te verkry.
– maak meeste groente eers liggies gaar, bv deur dit te blansjeer en vries dit dan. Iets soos mieliepitte, van die stronk gesny, kan rou gevries word, maar boontjies moet lief eers geblansjeer word. Anders verloor groente hul vog, tekstuur en geur.
– maak seker dat alles deeglik verpak is, met so min as moontlik lug/suurstof rondom die kos. Lug rondom kos, veroorsaak groot yskristalle in die vrieskas, wat vriesbrand (vries-skade) aan die kos veroorsaak.
– trek alle lug uit ’n sakkie dmv ’n strooitjie en verbind dan stewig met ’n binddraadjie of toutjie. Rekkies en taai-papier is nie geskik nie.
– kos moet heeltemal afgekoel wees voor dit in die yskas of vrieskas gebêre word.
– gebruik houers en vriessakkies geskik om te vries, bv roomysbakke of vriessakkies.
– verpak vleisporsies individueel in botterpapier en dan in lae in ’n vriessakkie. Dit neem minder ruimte in die vrieskas in beslag.
– verpak vleis en ander kos in die porsie-groottes waarin dit gebruik gaan word, bv 6 tjops in ’n pakkie of 1-2 liter sop in ’n houer.
– vries vloeistof in geskikte houers, bv leë feta-houers en plaas dan in vriessakkies wanneer hard gevries – dit neem minder plek in die vrieskas.
– onthou dat vloeistof uitsit wanneer dit gevries word, so laat genoeg ruimte in ’n houer.
– merk alles deeglik met die inhoud, datum, gewig of hoeveelheid. Maskeerband op ’n sakkie of houer werk goed en skryf met ’n koukie of pen daarop.
– meeste kos vries goed vir 3-6 maande
– ontdooi kos oornag in die yskas, nie in ’n mikrogolfoond nie, want dit begin dikwels aan die kant gaar word, wat die kos kan uitdroog.
Vriesbrand: dit vind plaas, wanneer kos, veral vleis en groente, swak gevries word. Vog en lug wat rondom die kos vries, vorm groot yskristalle, wat die wit kolle op die oppervlak van die kos vorm en dit uitdroog. Hierdie dele is smakeloos en nie eetbaar wanneer die kos weer ontdooi nie.
Kos wat uitstekend vries:
– gaar sop en bredies, sonder aartappels
– goedverpakte hoender, vleis en vis
– lensies en boontjies in kook-vloeistof gevries, kan in bredies en sop gebruik word
– gerasperde kaas
– geskilde, gekapte tamaties
– vrugtepurees
– eierwitte
– brood, muffins, onversierde koek en ongebakte pasteie en pizzas
– meel, semels, neute, sade
– vars gemmer
– klappermelk
Kos wat nie suksesvol vries nie:
– aartappels
– blokke kaas
– rou slaaibestandele
– eiergele
– witsouse, eiersouse en jogurt – dit skif maklik wanneer dit ontdooi
Yskas – maak alles goed toe, sodat nie uitdroog of ander reuke optel of veroorsaak.
Louise Groenewald
Gaar pasta vries goed. Ek vries altyd die helfte of so van ‘n 500 g pasta wat ek gaar maak. Dan maak jy baie vinnig kos. Ek sit sommer die gevriesde pasta net so bo-op die maalvleis, laat dit stadig prut en oor so 20 minute kan jy dit lekker deur roer en nog so 5 min kook.






