
TIPS VIR DIE MAAK VAN CHUTNEY
Droë vrugte moet vooraf in water, rooibostee of vrugtesap geweek word, anders sal dit nie sag kook nie.
Vervang 450 g vars vrugte met 300 g droë vrugte.
Groente of vrugte kan met wit-/ bruinsuiker of heuning, melasse en soms gouestroop versoet word. Wanneer suiker bygevoeg word, verhoed dit dat die vrugte of groente verder sag kook. Indien die vrugte of groente nog nie sag is nie, moet dit eers nog ‘n rukkie gekook word voor die suiker bygevoeg word.
Die gewildste speserye wat gebruik word, is aromatiese soorte soos kaneel, gemmer, koljander, kardemom, piment (all spice), wonderpeper (?), Kerrie, borrie, komyn, koljander en naeltjies. Hulle word nie maklik deur die suur smaak van asyn oorheers nie.
Vir ekstra byt kan vars, ontpitte, gekapte brandrissie bygevoeg word. Vir nog ‘n skerper smaak kan die pitte ingelos word.
Dit is belangrik dat die blatjang lank en stadig gekook word, sodat al die geure onttrek en vermeng e nook sodat al die bestanddele afgebreek kan word.
Harde vrugte of groente en die met dik skille moet vooraf in die asyn of water geprut word tot hulle sag is.
Gebruik altyd metaalskroefdeksels met plastiek aan die binnekant van die plaatjie om die bottels te seël. Maak seker dat die deksels dig seël om te voorkom dat die asyn verdamp en die blatjang uitdroog.
Dit is altyd beter om die blatjang vir ‘n maand te laat staan sodat die geure kan vermeng en die smaak ontwikkel.
Bëre in ‘n koel, droë plek sodat dit nie verkleur nie.
Die gemiddelde rakleeftyd is twee jaar.
Bewaar in die yskas na bottels oopgemaak is.
METODE
Berei die vrugte of groente voor soos deur die resep aangedui.
Plaas die vrugte of groente in ‘n groot, dikboom kastrol, voeg asyn by en prut stadig tot dit sag is en die vesels afgebreek is.
Voeg die suiker en speserye by en roer tot die suiker opgelos is.
Bedek en prut dit ongeveer ‘n uur, of tot dit goudbruin en dik is en al die vloeistof ingedamp het. Roer gereeld (die hoë suikerinhoud maak dat dit relatief maklik aanbrand).
Blatjang moet so dik soos konfyt wees. Toets deur die agterkant van ‘n lepel oor die boom van die kastrol te trek. Wanneer daar nie loperige vloeistof sigbaar is nie, is die produk reg.
Skep dit in gesteriliseerde bottels tot min of meer by die begin van die skroefdraad van die nek van die bottels (jy moet ‘n spasie ooplos vir ‘n vakuum om te vorm, groter bottels benodig bietjie meer en kleiner bottels minder spasie). Gebruik ‘n nuwe sosatiestokkie om alle lugblasies te laat ontsnap.
Maak seker jy vee die bek van die bottels skoon met ‘n skoon klam lap – as daar enigiets tussen die bottel en die prop is, mag dit nie dig seël nie en die inhoud sal bederf.
Die prokuk sal binne 4 – 6 weke gereed wees om te eet.
Sit altyd bottels wat oopgemaak is in die yskas.
DIE MEES ALGEMENE FOUTE WAT VOORKOM
SKIMMEL
Vernietig dadelik, die skimmel wat bo-op groei het ‘n onsigbare network van drade binne-in die produk wat skadelik en selfs dodelik is.
Oorsake – nie behoorlik geseël, produk is nie lank genoeg gekook nie, bottels of proppe was nie gesteriliseer nie, toerusting was nie skoon nie.
DIE INHOUD HET VERDROOG EN INGEKRIMP
Die deksels was nie heeltemal lugdig nie (dis hoekom jy nie plastiek bottels/deksels kan gebruik nie)
Die produk het te lank gekook
Die temperatuur waarteen die produk gebere is is te hoog
DIE KLEUR HET VERANDER
Die temperatuur waarteen die produk gebere is is te hoog
As die blatjang verbleik het, is dit tydens bewaring aan te veel direkte lig blootgestel
Swak gehalte asyn is gebruik (dit moet minstens 15% acidity hê, veral groot maat bottels is so gemerk)
Geplaas en foto deur Petro Borchard = BOTTEL EN GEBRUIK – HANNETJIE JOUBERT






