PEARL SE KLAPPERYS
2 koppies suiker
⅛ teelepl sout
½ koppie water
1 eetlepel glukosestroop
½ teelepel kremetart
2 koppies fyn klapper
1 teelepel vanilla geursel
1 teelepel rooswater
rooi of pink voedsel kleurstof
botter vir smeer, ek gebruik sommer bakpapier
Meng suiker, glukosestroop, sout, water en kremetart saam in ‘n kastrol.
Roer tot suiker opgelos is en kook die mengsel tot dit ‘n sagte bal vorm as dit in koue water getoets word – 114.5°C. Ek toets maar altyd die stroop in water ook – al het ek ‘n suikertermostaat. Dit is baie belanglik dat dit ‘n bal kan vorm, ek het in die begin maar net op die termometer gelet – tot my spyt!
Was kort-kort die suikerkorrels met ‘n kwas wat in water gedruk is van die kante af om kristale te stop.
Sodra die mengsel begin kook, sit die deksel vir ‘n kort rukkie op om suiker teen die rand af te stoom.
Haal van die stoof af en laat effens afkoel.
Voeg nou die klapper by en deel die mengsel op in 2 bakke.
Meng die vanilla in by die een bak en die rooswater en pienk kleursel by die ander bak.
Klop tot romerig en giet in ‘n pan gesmeer met botter of uitgevoer met papier, giet dan die rooswater mengsel bo-op.
Sny in blokkies voordat dit te hard is!
Notas:
As jy dit net een keer aanmaak, moet jy die mengsel verdeel in twee: eerste die wit en dan die pink bo-op. Jy moet vinnig werk sodat die pink nog wil vassit aan die wit. Ek maak die resep twee keer aan, elke geur in ‘n aparte pot. Ek maak die resep 4 keer aan, vir twee potte nie te groot nie.
Ek maak dit binne 15 minute, want ek is al geoefen. Het ook maar in die begin flops gehad, so eers maar klein begin.
Resep en foto: Pearl van der Walt









