

BROOD OF VETKOEK DEEG
Hier is die resep vir een groot brood of vetkoek wat ek vanmiddag gemaak het. Lees dit eers goed deur. Dit lyk omslagtig, maar is nie – volg maar net die stappe
1 kg meel
1 pakkie korrel suurdeeg – ek gebruik die pers pakkie
1 teel sout
1 desertl botter
2 teel suiker
+- 1 3/4 kop STERK LOU water
Spuit ‘n broodpan goed met Spray&Cook.
Sif meel en meng suurdeeg en sout daarby.
Meng botter en suiker in die STRERK LOU water – nie te warm nie. Dit help die rysproses.
Maak ‘n holte in die meel en gooi 1 1/2 kop water by en werk liggies, maar deeglik, deur met jou vingers, sodat daar nie klonte vorm nie.
Vryf die meel aan die kante van jou skottel ook in, gooi die res van die water by, waar daar nog meel is en meng goed.
Die deeg moet aanvanklik klewerig wees, maar werk dit vir 3 minute goed deur tussen jou vingers – dit lyk of jy met klei speel en lekker mors – en weer ‘n kind is – maar hierdie stap is nodig.
Begin nou ernstig knie vir MINSTENS 8 minute – sterk armspiere nodig – haha.
Gebruik ekstra meel aan jou hande om te help dat die deeg nie so aan jou hande klou nie.
Draai die deeg gedurig om terwyl jy knie, sodat die onderkant en sykante ook geknie kan word.
Die deeg moet elasties wees soos kougom wat uitgekou is!
*NOU!! Ek gebruik nou ‘n kortpad – ek sit die oond aan sodat dit net-net (effens) LOU is en skakel dit af.
Los die deeg in die skottel om te rys.
Bedek die skottel met plastiek, sodat die deeg nie bo-op droog word nie.
Maak die skottel dan goed toe met vadoeke (of handdoek, ens) en laat rys die deeg in die BIETJIE LOU oond – ongeveer 15 min – totdat die deeg net sag gerys is.
Hanteer die deeg nou liggies en vorm met jou hande ‘n langwepige vorm en sit dit egalig in die gesmeerde broodpan.
Spuit Spray&Cook bo-op die brooddeeg – sodat die deeg nie aan die plastiek vasklou nie – en bedek weer met plastiek.
*Volg weer die kortpad van die oond wat effens lou moet wees.
Laat die deeg rys tot die broodpan amper vol is.
Verwyder die plastiek en bak vir 3/4 uur by 180 grade C.
Eet warm terwyl die korsie nog bros is – sit BAIE botter op en wat jy daarmee saam verkies!
Of maak lekker vetkoeke van die deeg.
BRON: Anne Snyman
FOTO: Alta Gunter Van Dyk






