AARTAPPEL EN EIER GEBAK
Ongeveer 7 gekookte aartappels in skywe gesny
8 hardgekookte eiers in skywe gesny
witsous (kaassous) gemaak met
2 groot eetlepels botter
2 groot eetlepels meel
1 eier
Genoeg hoenderekstrak om die korrekte tekstuur vir die sous te kry.
‘n handvol gerasperde Cheddarkaas.
Smelt die botter in ‘n medium grootte kastrol en roer dan die meel by tot dit goed deurgemeng is. Voeg die hoenderekstrak bietjie vir bietjie by terwyl aanmekaar geroer word. Wanneer die sous begin romerig word, gebruik ‘n hand draadklitser om dit verder te roer tot die sous glad is. Laat dit verder prut tot dit ‘n gladde dik, maar nog loperige tekstuur het. Meng ‘n handvol kaas daarby in tot gesmelt. Haal van die hitte af en klits een rou eier daarby.
Spuit ‘n oondbak met kleefwerende sprei en pak ‘n laag aartappels op die bodem. Volg dit op met ‘n laag eierskywe, wat nie noodwendig teen mekaar gepak hoef te word nie. Indien wel, sal jy meer gekookte eiers nodig hê. Volg dit op met ‘n dun lagie sous en sprinkel bietjie kaas oor. Herhaal die lae tot die bestanddele opgebruik is maar hou genoeg sous om heel bo oor te smeer. Strooi bietjie kaas oor die boonste laag en bak vir ongeveer 30 minute by 180ºC.
Bron en Foto: Adam Cloete.








