ROOI UIE EN PIENK PEPERKORREL MARMELADE
1 kg rooi uie (in helfte gesny en dan in halwe ringetjies gesny
200 g marmelade (ek het ‘n bottel lemoen & rooibostee marmelade in die yskas gehad)
300 ml rooiwyn (as dit nie goed genoeg is om te drink nie is dit nie goed genoeg vir die kos nie)
100 ml rooiwyn asyn (ek het net druiwe asyn gehad en dit werk)
3 teelepels heel korrel mosterd (of net die korreltjies soos ek gebruik)
30 ml bruin suiker
half koppie sultanas of cranberries (opsioneel)
25 ml olyf olie vir braai.
Jy kan enigiets soos lekker groot knippie gedroogde rissie vlokkies (of vars), peperkorrels ens bysit na smaak.
Braai die uie in die olyf olie tot deurskynend, voeg die sultanas, cranberries, peperkorrels, suiker, rissies, mosterd by en prut stadig totdat die suiker opgelos het (so 10min). Voeg die wyn & asyn mengsel by en prut totdat die uie sag en die sultanas/cranberries uitgeswel is. Skep alles uit met ‘n gaatjie lepel en los die vloeistof in die pot. Voeg die marmelade by en prut totdat die sous lekker dik is. Laat afkoel en skep die rooi uie mengsel terug in die pot. Meng goed en skep in gesteriliseerde glas bottels en seel. Sit in yskas en probeer om nie oop te maak vir ten minste ‘n week sodat die geure & smake goed kan kombineer. Heerlik saam met rooi vleis en veral op toebroodjies met pastrami & ham, lekker skerp kaas en roket. Genoeg vir so 2 x half liter botteltjies.
RESEP EN FOTO: Elsabie Templeton









geskuif