BUTTERNUT SOP MET LEMOEN
My Butternut sop wat ek baie gereeld maak. Vinnig, maklik en lekker!
1 Geskilde, Gesnyde Butternut
1 Groot Ui gesny
Kook Butternut en Ui in genoeg water saam met ‘n hoenderaftrekselblokkie tot sag, nie droog nie.
Gooi die hele mengsel, saam met die oorblywende aftreksel-water in die Voedselverwerker. Meng dit goed deur, gooi bietjie-bietjie melk by die mengsel tot op ongeveer ‘n koppie (Of meer as jy dit dunner wil he). Gooi ‘n handvol vars pietersielie in die mengsel en laat alles sommer lekker lank meng.
Maal bietjie swartpeper in. Rasper bietjie vars lemoenskil in die mengsel. As alles goed gemeng is, plaas dit terug in die kastrol op die stoof, laat dit lekker deurprut. Vat 2 lemoene en druk die sap sommer met jou hand uit in die sop. Roer lekker deur en laat prut nog effens. Vir garnering gooi n dun straaltjie room in die middel van die sop en sit bietjie fyngeknipte pietersiele by die room. Of ‘n homp Suurroom is ook heerlik. In plaas van melk om die sop te verdun kan room ook gebruik word. Dit is dan net bietjie ryk vir my.
Hierdie sop vries wonderlik, dit proe weer vars as dit ontdooi word. Moet net nie in Mikrogolf ontdooi nie, laat by kamertemperatuur ontdooi. Geniet!
RESEP: Julanda Swanepoel







