ADRIAN SE ROMERIGE SPINASIE LASAGNE
500g maalvleis
1 fyngekapte ui
1 fyngemaakte knoffelhuisie
2 Lourierblare
2 eetlepels tamatiepasta
1 vleisekstrakblokkie
sout en peper na smaak
Olie of botter om in te braai
500g spinasie
Spinasie lasagna stroke (sheets)
Kaas om bo-oor te sprinkel
Bechamelsous (sien link hieronder)
Verhit die olie of botter saam met die lourierblare en braai die uie daarin tot sag. Voeg dan die knoffel by en braai vir een minuut. Voeg die vleis by en braai saam met die uie en knoffel verder tot dit goed verbruin het. Los die vleisblokkie op in ongeveer 100ml kookwater en voeg die tamatiepasta daarby. Voeg dit by die vleis en geur met sout en peper na smaak. Onthou die vleisblokkie is ook sout. Roer goed deur en prut liggies tot die meeste vloeistof uitgekook is. Haal van die hitte af en hou eenkant.
Kook die spinasie tot sag, dreineer en maak dit fyn in ‘n voedselverwerker of sny dit baie fyn op. Maak die Bechamel sous (witsous) en roer die spinasie daarby in. Spuit ‘n oondvaste bak met nie-klewende sprei en pak ‘n laag lasagna velle onder. Skep ‘n laag witsous bo-oor en volg dan op met ‘n laag vleis. Herhaal die lae maar eindig met ‘n laag witsous bo-oor die laaste laag vleis. Sprinkel kaas van jou keuse bo-oor. Laat vir ‘n halfuur staan en bak dan in ‘n voorafverhitte oond vir ongeveer 35 minute by 180ºC tot goudbruin bo-op.
https://foodloversrecipes.com/bechamel-sauce-white-sauce/
Bron: Adrian Olivier.
Foto: Adam Cloete.








