’n Variasie op die bekende “self-saucing”-sjokoladepoeding met ’n sweempie koffie en ’n handvol neute daarby. Mondwaterlekker. Vanielje- of koffieroomys is die perfekte pasmaats.
Ek het net die neute uitgelos. En natuurlik die koffie STERK gemaak. Johann..
Sous
60 ml kakao
125 ml bruinsuiker
310 ml kokende koffie (sterkte na smaak)
Beslag
45 ml botter
100 g donker sjokolade, gekap
125 ml melk
2 groot eiers
160 ml strooisuiker
250 ml bruismeel
45 ml kakao
1 x 100 g-pakkie okkeurneute of pekanneute, grof gekap
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n middelslag-oondbak met botter of spuit met kleefwerende kossproei. Meng die kakao, bruinsuiker en koffie vir die sous saam in ’n beker tot die suiker opgelos is. Hou eenkant. Smelt die botter, sjokolade en melk saam tot glad en laat effens afkoel. Klits die eiers en strooisuiker saam. Voeg die meel en kakao by die eiermengsel en roer dan die gesmelte sjokolademengsel en okkerneute by. Skep in die oondbak en giet die stroop bo-oor. Bak vir ongeveer 30-40 minute of tot ferm. Laat effens afkoel en sit voor met roomys. Lewer agt porsies.
Foto: Johann Viljoen
Resep geplaas deur Johann Viljoen