375 ml melk
250 g botter of margarien
200 g witsuiker (250 ml)
sowat 1 liter sterk lou water
60 ml korrelsuurdeeg / kitsgis
40 ml sout
2.5 kg koekmeel
2 eiers – goed geklits
½ blik kondensmelk (379 g)
25 ml suurlemoensap
ekstra botter / margarien om die hande mee te smeer
Kook die melk, botter en al die suiker behalwe 15 ml saam, laat afkoel.
Meng 500 ml van die lou water, die suurdeeg, 7.5 ml van die sout en die 15 ml suiker wat eenkant gehou is.
Roer genoeg van die meel hierby om ‘n pannekoekbeslag te vorm.
Hou dit louwarm tot goed uitgerys na sowat 15 minute.
Meng die eiers, kondensmelk en suurlemoensap goed.
Meng die oorblywende sout met die res van die meel.
Voeg melk, suurdeeg en eiermengsel by en gebruik nog sowat ½ liter lou water om die beskuit mee aan te maak en te knie.
Die deeg moenie styf wees nie. Knie die deeg 20 minute lank en smeer die hande dikwels tydens die knieery.
Bedek die deeg en laat dit goed uitrys totdat dit dubbel die oorspronklike grootte is.
Maak bolletjies sonder om die deeg eers af te knie. Die bolletjies moet `n bietjie kleiner as hoendereiers wees.
Rol elke bolletjie in ‘n worsie tussen die handpalms, druk dit plat en plaas dit taamlik styf teen mekaar in gesmeerde beskuitpanne wat skuins staan. Smeer die hande met sagte of gesmelte botter of margarien terwyl die bolletjies gemaak word, want dan is dit nie nodig om tussen die bolletjies ook te smeer nie.
Laat die beskuit in die panne rys totdat dit gelyk met die rand van die panne is.
Bak die beskuit 70 minute by 190ºC (375 ºF). Keer die beskuit op draadrakke uit en laat afkoel. Breek versigtig oop, pak op draadrakke in die oond en droog oornag in ‘n koel oond uit met die oonddeur op ‘n skrefie oop
Nota: Dorea Fischer
Ok dis so bietjie aangepas, minder sout en dis net die helfte van die oorspronklike resep, die hele een van 5 kg meel is te veel vir ons.
Nota: Kiti De Jager
Een liter op 2.5 kg meel. Jy gebruik 500 ml vir jou starter (die suurdeeg slap degie) en dan voeg ek die gekookte melkmengsel, die kondensmelk/eiermengsel en nog 500 ml louwarm water by voor ek die res van die meel bysit. Bygesê, ek weeg al my bestanddele, dan weet ek presies die regte hoeveelheid meel is daarin.
Maak seker jy activate jou suurdeeg, al sê dit klits en jy kan met meel meng. MOENIE. Activate met warm water, bietjie van die suiker en bietjie meel. Eers as dit rys, kan jy gebruik. Moenie kortpad vat nie en volg stappe. Ek het al probeer net bymekaar voeg, met minder suksesvolle results (bv die melk kook stap uitlos). Laat dit baie goed rys die eerste stap. Jy sal die verskil voel in die deeg na dit gerys het, Dis sag, mollig en mens wil net speel. As jy bolletjies maak, doen dit deur om te vou, weer en weer, en dan druk ek my vinger of duim in die middel en vou om, dan het jy goeie “oppervlak spanning”. Dit maak dat jou deeg meer hoog rys. Ek sit ook foelie bedekte kartonne in my panne as ek ‘n groot pan maak, so in die middel af. Dit keer dat die binneste nie afsak nie maar iets het om aan te klou. Jy kan jou panne se rande verhoog deur dit toe doen aan die sykante van ‘n broodpan.
Adele Marais Kuit
Dit is ook beter om jou kitsgis met jou meel te meng as jy die pannekoek beslag maak anders werk dit nie goed nie.
Ek het ook ‘n hele blik kondensmelk gebruik.
Nota: Betsie Ferreira
Verebeskuit (het my bestanddele gehalveer en botter gebruik)
Vir 5 kg meel: 750 ml melk, 500 ml witsuiker, sowat 2 liter louwater, 3 koekies van 25g saamgeperste suurdeeg, 75 ml sout, 5 geklitste eiers, 1 blik kondensmelk, 50 ml suurlemoen sap











geskuif