Lewer sowat 150 lang beskuite.
375 ml melk
250 g botter of margarien
200 g witsuiker (250 ml)
sowat 1 liter sterk lou water
60 ml korrelsuurdeeg / kitsgis
40 ml sout
2.5 kg koekmeel
2 eiers – goed geklits
½ blik kondensmelk (379 g)
25 ml suurlemoensap
ekstra botter / margarien om die hande mee te smeer
Kook die melk, smeer en al die suiker behalwe 15 ml saam, laat afkoel.
Meng 500 ml van die lou water, die suurdeeg, 7.5 ml van die sout en die 15 ml suiker wat eenkant gehou is.
Roer genoeg van die meel hierby om ‘n pannekoekbeslag te vorm.
Hou dit louwarm tot goed uitgerys na sowat 15 minute.
Meng die eiers, kondensmelk en suurlemoensap goed.
Meng die oorblywende sout met die res van die meel.
Voeg melk, suurdeeg en eiermengsel by en gebruik nog sowat ½ liter lou water om die beskuit mee aan te maak en te knie.
Die deeg moenie styf wees nie. Knie die deeg 20 minute lank en smeer die hande dikwels tydens die knieery.
Bedek die deeg en laat dit goed uitrys totdat dit dubbel die oorspronklike grootte is.
Maak bolletjies sonder om die deeg eers af te knie. Die bolletjies moet `n bietjie kleiner as hoendereiers wees.
Rol elke bolletjie in `n worsie tussen die handpalms, druk dit plat en plaas dit taamlik styf teen mekaar in gesmeerde beskuitpanne wat skuins staan. Smeer die hande met sagte of gesmelte botter of margarien terwyl die bolletjies gemaak word, want dan is dit nie nodig om tussen die bolletjies ook te smeer nie.
Laat die beskuit in die panne rys totdat dit gelyk met die rand van die panne is. Bak die beskuit 70 minute by 190 grade C (375 F). Keer die beskuit op draadrakke uit en laat afkoel. Breek versigtig oop, pak op draadrakke in die oond en droog oornag in `n koel oond uit met die oonddeur op `n skrefie oop
Foto: Dorea Fischer en Bev Lahoud
Ok dis so bietjie aangepas, minder sout en dis net die helfte van die oorspronklike resep, die hele een van 5 kg meel is te veel vir ons.
Kiti De Jager
Een liter op 2.5 kg meel Velia. Jy gebruik 500 ml vir jou starter (die suurdeeg slap degie) en dan gooi ek die gekookte melk mengsel, die kondensmelk/eier mengsel en nog 500 ml louwarm water by voor ek die res van die meel ingooi. Bygesê, ek weeg al my bestanddele, dan weet ek presies die regte hoeveelheid meel is daarin.
Adele Marais Kuit
Dit is ook beter om jou kitsgis met jou meel te meng as jy die pannekoek beslag maak anders werk dit nie goed nie.
Ek het ook ‘n hele blik kondensmelk gebruik.
geskuif