Ontbeen 1 kg hoenderborsies, haal die velletjie af en sny in blokkies.
Meng 2 eetlepels suurlemoensap, 1 teelepel fyngekapte knoffel, 1 teelepel sout en 1 eetlepel masala poeier saam, vryf die hoenderstukkies met die mengsel en laat staan vir ‘n rukkie.
Sit ‘n klein bietjie olie in ‘n kastrol en voeg 2 fyngekapte uie by, braai op ‘n medium hitte tot goudbruin. Voeg 1 eetlepel fyngekapte knoffel by, gevolg deur 2 eetlepels masala, 2 teelepels paprika, 2 teelepels sout en ‘n kwart teelepeltjie kaneel.
Voeg nou 2-3 fyngekapte tamaties by (die resep lees dat jy twee blikkies gekapte tamatie moet bysit – ek het nog nie gesien dat hulle dit so verkoop nie, behalwe met ui by). Voeg ‘n driekwart koppie vars room by. Kook vir ongeveer 5 minute. Sit die mengsel in ‘n voedselverweker om ‘n puree te vorm. Sit die puree terug in jou kastrol en voeg jou hoenderstukkies by, laat dit op ‘n medium hitte prut vir ongeveer 20 minute of tot gaar. Voeg nou 2 eetlepels botter by, proe en voeg sout by volgens persoonlike smaak voorkeur.
Resep en foto: Stephanie Mentz








