Regte, egte outydse resep – maak seker jy het baie tyd vir die een!!!
500 g rosyne (met pitte)
1.5 liter (6 koppies) water
½ koekie gis (droog of saamgepers) of 7,5 ml ( ½ eetl) aktiewe droë gis
5 kg witbroodmeel
500 g botter of margarien of 250 g elk botter en varkvet
kookwater of melk
1 liter (4 koppies) uiker
15 ml (1 eetlepel) sout
30 ml (2 eetlepel) anyssaad
Glaseersel:
geel van 1 Eier
suiker
melk
Stamp die rosyne stukkend en moenie die pitte verwyder nie. Kook rosyne 10 minute in water en laat afkoel tot louwarm.
Plaas rosyne in ‘n emaljekan of –emmertjie en voeg 125 ml ( ½ koppie) van die louwarm water, gemeng met die giskoekie, by. Roer goed en laat op ‘n warm plek staan tot die rosyne bo-op dryf. Dit sal 24 tot 36 uur duur.
Syg die vloeistof van die rosyne deur ‘n klam kaasdoek en gebruik dit vir die suurdeeg.
Roer 1 liter (4 koppies) witbroodmeel by die vloeistof tot dit glad is en laat sowat 3 tot 4 ure lank op ‘n warm plek staan of tot die suurdeeg goed gerys het.
Smelt die botter (of botter en vet) en voeg ‘n bietjie kookwater by.
Meng die orige broodmeelblom, suiker, sout, anyssaad, suurdeeg, botter en genoeg warm water om ‘n stywe deeg te vorm.
Knie die deeg baie goed, minstens ‘n uur lank, tot die klein lugblasies egalig daarin versprei het (sny ‘n stukkie van die deeg met ‘n mes af om te toets).
Maak dit goed toe en plaas oornag op ‘n warm plek.
Die volgende oggend sal die deeg dubbel die oorspronklike grootte wees. Moet dit nie afknie nie, maar vorm balletjies van die deeg en sit hulle teen mekaar in 6-8 groot, gesmeerde broodpanne.
Laat die balletjies op ‘n warm plek rys tot hulle in grootte verdubbel het.
Vir glaseersel, klits eiergeel met ‘n bietjie suiker en melk en smeer oor bolletjies. Bak sowat 1 uur lank by 200ºC (400ºF).
2de foto: Sonja Zino se mosbolletjie met spelt meel… vervang net die meel met spelt meel..
Sonja Zino
Dankie Rina. Ek het die outydse resep wat jy hierbo geplaas het, gebruik. Net n vyfde van resep gemaak en die meel met spelt vervang.