ANEEN SE MOUSSAKA
1 groot ui,
45 ml margarien,
500 g maalvleis,
125 ml koekmeelblom,
30 ml tamatiepasta,
10 ml suiker,
125 ml koue water,
10 ml gekapte pietersielie,
sout en peper,
1 middelslag eiervrug,
30 ml kookolie,
375 ml melk,
5 ml suurlemoensap,
250 ml gerasperde sterk cheddarkaas,
1 eier.
Voorverhit oond tot 180 grade C. Braai die gekapte ui in 15 ml margarien in ‘n kastrol tot deurskynend. Voeg vleis by, roer en braai sowat 5 minute. Roer 15 tot 30 ml koekmeelblom by en kook nog 2 minute. Meng tamatiepasta, suiker, water en pietersielie en voeg by vleis. Geur met sout en peper na smaak, Sit deksel op en kook 15 minute lank stadig. Skil en sny eiervrug in skywe en braai dit 10 minute in die warm kookolie. Skep vleis en eiervrug in lae in ‘n oondskottel. Maak ‘n witsous van die orige koekmeel, margarien en melk en geur dit met sout en peper. Voeg die suurlemoensap en 190ml van die gerasperde kaas by. Klits eier en voeg ook by. Giet kaassous oor vleis en strooi res van kaas bo-oor. Bak 30 tot 35 minute tot mooi bruin.
Wenk: Voordat eiervrugskywe gebraai word, sprinkel eers sout daaroor en laat sowat ‘n halfuur staan om te ontwater.
Resep geplaas deur Aneen Graupe








