HERTZOGGIES
Hierdie is my ouma se resep.
Kors:
4 x 250 ml koekmeel
250 g Stork margarien
125 ml suiker
3 eiergele
250 ml melk
Meng die kors se bestanddele in ‘n mengbak en meng met die hand tot ‘n sagte deeg vorm.
Rol die deeg uit met ‘n op ‘n liggies meelbestrooide oppervlak en druk uit met ‘n vormpie of ‘n glas so groot soos die kowyntjiepannetjie se holte. Vul die holtes van die gespuite kolwyntjiepannetjies met al die uitgedrukte deeg.
Vulsel:
6 eierwitte
750 ml klapper
200 ml suiker
fyn appelkooskonfyt
Stel die oond op 180°C.
Klits die eierwitte tot styf en vou die klapper en suiker versigtig by.
Skep appelkooskonfyt in die deegholtes en bedek die konfyt met die klappermengsel.
Bak die hertzoggies in die oond tot ligbruin. Haal uit die oond en laat die koekies afkoel.
Lewer 6 dosyn koekies.
Nota en foto 2: Hannetjie Langenhoven – Ek het die hertzoggie resep probeer, die klapper was net bietjie grof, maar dit het baie lekker uitgekom. Dis lekker om aan dié groep te behoort as jy nie jou resepteboeke by jou het nie.
Resep en foto 1: Jolandi Greyling
2de foto: Hannetjie Langenhoven