PYNAPPELTERT
Ek het die naweek hierdie tert gemaak en dit is heerlik, lekker klam en saam met bietjie styfgeklopte room is dit ‘n heerlike tert of nagereg.
45 ml margarien
250 ml strooisuiker of Zylitol
2 ekstra groot eiers
250 ml koekmeel
5 ml bakpoeier
2.5 ml sout
60 ml melk
1 blik (432 g) fyn pynappel
1 peer of appel geskil en in half maantjies gesny, kook so rukkie in die mikrogolf in bietjie water net om dit sag te maak, hou eenkant
Stroop:
250 ml suiker of Zylitol
250 ml room
5 ml vanilla geursel
Voorverhit die oond tot 180°C. Berei tertpan of losboom koekpan voor, selfs ‘n vierkantige glasbak sal reg wees. Dit is nie groot belag nie, so as jy dit nie dun wil hê nie gebruik so 20 cm pan.
Room die margarien en strooisuiker tot lig en donsig. Voeg die eiers een een by en klits goed na elke toevoeging. Sif die meel, sout en bakpoeier saam en vou in die mengsel in alternatiewelik met die melk. Gooi die pynappel in ‘n sif en druk al die sap uit, meng die pynappel by die mengsel in. Gooi in jou voorbereide pan. Pak nou die peer/appel bo-op die tert in ‘n mooi patroon. Bak vir ongeveer 1 uur tot toetspen skoon uitkom. (Myne het langer gebak.)
Terwyl die tert in die oond is, kook die stroop se bestanddele saam tot suiker lekker opgelos is. Steek die warm tert met ‘n tandestokkie vol gaatjies wanneer hy uit die oond kom. Gooi warm stroop oor warm tert. Help maar so teen die kante dat die stroop lekker kan intrek.
Bedien afgekoel saam met lekker styf geklopte room.
Yummies verby.
Foto: Rina Kleinhans
One thought on “PYNAPPELTERT”
Leave a comment
You must be logged in to post a comment.
geskuif