Basiese pasta sous en Arrabiata
Neem vars of geblikte tamaties. Vars tamaties word in klein blokkies gesny, en met ‘n fyngekapte ui, en ‘n huisie of 3 knoffel, in ‘n pot gesit, en gekook tot gaar, en totdat die mengsel gereduseer en meer gekonsentreerd is (dit beteken die water in die bestanddele het weggekook, en laat ‘n dikkerige mengsel, waarvan die geure meer sterk smaak, agter). Meng hierby ‘n pakkie tamatiepasta, geur met sout en peper, en jy het jou basiese pastasous. Kan ook op pizza’s gebruik word vir die basis.
Gebruik geskeurde basil blare, en roer met die sous deur spaghetti, en bob’s your uncle! ‘n Raspertjie peccorino of parmesaankaas om dit diepte te gee, en jy’t ‘n wenner.
Vir die warmbloediges onder ons, ‘n teelepel gedroogte chillies is net die ding wat hierde basiese sous in ‘n arrabiata omskep. Natuurlik is die teelepel net ‘n gedagte – as jy dit wil vererger of versag, jy is die kok, doen so.
Spek, rooiwyn en songedroogde tamatie roomsous
Braai gesnyde spek tot bros, en voeg ‘n koppie rooiwyn by. Nou neem jy van tannie Ina Paarman se songedroogde tamaties in die sousie, daai plastiek pakkies, snipper die tamaties kleiner, en gooi die tamaties EN die sous van die pakkie, by die spek en wyn. Op ‘n baie lae hitte voeg jy ‘n koppie room (of minder, afhangende van jou bui) by, en roer dit deur. Laat sous dik word. Geur met sout en peper, en roer deur die pasta voor opdiening.
‘n Student se pasta (as jy deesdae blikkies tuna kan bekostig!)
Ek en ‘n goeie vriendin het hierdie sommige middae aanmekaar geslaan as ek te lui was om huis toe te gaan vir ete, of eenvoudig te lam na die vorige aand se wyn. Sy het altyd min kos, en baie wyn gehad, maar iewers in die kas was altyd spaghetti en tuna, en daarmee het ons die middagete uur gevul.
Maak ‘n basiese witsous van botter, meel en melk. Kook oor lae hitte tot gaar, voeg ‘n blikkie gedreineerde tuna in WATER by, ‘n klein bietjie Mrs Ball’s, en roer deur die pasta. Koningskos!
Tamatie, spek en feta sous
Maak die basiese tamatiesous, en braai spek en fyngesnyde groenrissie repies in ‘n aparte pan. Voeg dit in die tamatiesous. Voeg 1/3 van jou hoeveelheid feta (probeer een kry wat nie so erg sout is nie) by, en wanneer jy die sous oor die pasta gaan skep, gooi jy die res van die feta op die pasta.
Room, sampioene, ham/spek/salami
Neem ‘n halwe ui, fyngekap, en braai dit bruin in olyf olie. Voeg die vleis van jou keuse by, maak gaar indien dit die spek is, en voeg gesnyde sampioene by. Sodra die sampioene gaar is – dis gou, jy kan nie eens tee maak in die tydjie nie – voeg room by, en laat dit oor lae hitte, verdik. Roer gekapte pietersielie deur, en bedien op pasta.
Amelia De Villiers








