MURGPAMPOENKOEKIES
Terwyl ek eendag gewag het vir my afspraak by dr, het ek die resep uit ‘n tydskrif afgeskryf, so lank gelede ek kan nie eers onthou uit watter een nie. Ek maak groot hoeveelheid en my dogter vries dit in haar koshuiskamer, gesonde vullende versnappering as tyd min is vir eetsaal.
Meng die volgende:
4 murgpampoentjies gerasper (ek neem tot 8)
5 sprietuie fyngekap
250 g fetakaas grof gerasper
1 handvol gekapte pietersielie
1 handvol gekapte ment
1 teelepel paprika
1 koppie meel
3 eiers geklits
sout en peper (onthou die Feta is sout)
Meng alles en bak lepels vol in vlak medium hitte olie tot ligbruin.
Nie te warm nie – so 3 tot 4 min aan elke kant, dreineer.
Eet dit koud of warm.
My vriendin het dit al gemaak met “gems”, lemoenpampoentjies wat sy geskil en gerasper het, dit was net so lekker.
Resep: Lettie van der Merwe








