HUMMINGBIRD KOEK
Koek:
3 groot eiers
2 koppies suiker
¾ koppie sonneblom- of canolaolie
1 ½ teelepel vanielje-ekstrak
3 koppies koekmeel
1 teelepel koeksoda
½ teelepel sout
1 ½ teelepel kaneel (ek voeg ook mespuntjie fyn naeltjies en raspertjie neutmuskaat by)
1 blik ingemaakte fyn pynappel, sap ingesluit
6 ryp piesangs, fyngemaak
1 koppie grofgekapte pekanneute
Roomkaas-versiersel:
110 g sagte botter
2 houers roomkaas, kamertemperatuur
1 teelepel vanielje-ekstrak
4-5 koppies versiersuiker (strooisuiker kan werk net as dit baie fyn poeier is – ek maak dit in versapper fyn)
Voorverhit oond tot 180°C. Smeer drie 23 cm-koekpanne en voer die bodems met bakpapier uit. Klits die eiers en suiker tot lig en romerig. Voeg die olie in ‘n straaltjie by terwyl jy aanhou klits. Klits die vanielje by tot die beslag glad en romerig is. In ‘n aparte bakkie sif die meel, koeksoda, sout en kaneel saam. Klop die droë bestanddele, ‘n derde op ‘n slag, by die geroomde mengsel, elke keer net genoeg om dit goed te meng. Voeg fyn pynappel en sap, piesang en neute by en roer by. Verdeel die beslag tussen die drie panne. Bak 20-25 minute in voorverhitte oond tot gaar (‘n toetspen sal skoon uitkom en die koek trek weg van die pan af). Haal uit die oond en laat heeltemal afkoel in die panne.
*As jou piesangs nie lekker goed ryp is nie, kan jy dit sowat 10 minute in ‘n warm oond (180ºC) met skil en al bak tot die skilletjies swart is en die binnekant papperig. Dit verbeter die smaak en maak dit maklik om die piesang fyn te maak.
Versiersel:
Room botter en roomkaas tot baie glad en romerig, voeg vanielje by en meng goed in. Voeg suiker koppie vir koppie by en klits baie goed na elke byvoeging. As die mengsel te slap is om die koek te versier, sit dit ‘n rukkie in die yskas.
Om te versier: Plaas die eerste laag op die koekbord met die bakpapierkant na bo. Verwyder die papier en smeer met 1 koppie versiersel; herhaal met die volgende lae. Rond af met gedroogte pynappelblomme (of gekapte pekanneute as jy nie by die blommemaak uitgekom het nie).
Foto: Leanne Thurston Coetzer








