


GRIEKSE MOUSSAKA
’n Lekker moussaka verg tyd en moeite omdat jy ’n hele paar goed moet doen: eers die maalvleis, dan die béchamel-sous én jy moet ook die aartappels en eiervrug braai. Maar dis die moeite werd. Gebruik ’n goeie rooiwyn in die gereg.
Jy het nodig vir 6 mense:
±1 koppie olyfolie
1 groot ui, gekap
500 g maalvleis
4 rooiryp tamaties, geskil en gekap
1 x 50 g-sakkie tamatiepasta
1 koppie rooiwyn
2 teelepels gemaalde kaneel
1 teelepel gemaalde wonderpeper (Allspice)
1 teelepel droë origanum (of 1 eetlepel gekapte, vars origanum)
1 teelepel droë pietersielie (of 1 eetlepel gekapte, vars pietersielie)
1 teelepel sout
gemaalde swartpeper
2 middelslag-eiervrugte, punte afgesny en in die lengte in skywe gesny
2 aartappels, geskil en in baie dun skyfies gesny
Béchamel-sous:
3 eetlepels botter
4 eetlepels koekmeel
4 koppies melk
½ teelepel sout
2 eiergele
4 eetlepels gerasperde parmesaankaas (of gerasperde cheddar)
Om oor te strooi:
ekstra gerasperde parmesaankaas (of gerasperde cheddar)
Vir die maalvleis. Verhit 3 eetlepels olie in ’n kastrol en braai die uie daarin tot sag. Voeg die maalvleis by en braai dit tot bruin. Roer heeltyd sodat dit los is. Voeg nou al die bestanddele by die vleis, behalwe die eiervrug en aartappel, en prut dit met die deksel op oor lae hitte vir minstens ’n uur. Roer die maalvleis af en toe om seker te maak dat dit nie droogkook nie.
Vir die groente. Braai die eiervrugskyfies in diep olie tot sag en bruin en skep dit op kombuispapier om te dreineer. Doen dieselfde met die aartappelskyfies. Hou dit heeltyd dop, want dit brand maklik. (As jy die gereg by die huis maak, kan jy die eiervrug en aartappels met olie bestryk en dit in die oond onder die rooster gaarmaak. Só gebruik jy minder olie.)
Vir die sous. Smelt die botter in ’n skoon kastrol. Voeg die melk, meel en sout by en verhit dit oor lae hitte. Roer heeltyd met ’n draadklitser. Hou die hitte laag, anders brand die melk aan. Laat prut die sous vir 2 tot 3 minute en haal dit van die plaat af. Roer die eiergele by en laastens die gerasperde kaas.
Nou alles saam. Gebruik ’n plat, reghoekige opdienbak. Pak die eiervrug onderin, dan ’n lagie maalvleis, daarna die aartappels en dan nog ’n laag maalvleis. Gooi die sous en ekstra gerasperde kaas bo-oor. By die huis kan jy die gereg vir ’n halfuur bak teen 180 °C, maar in die bos kan jy dit bloot vir ’n kwartier laat staan.
VARIASIE: Jy kan net
eiervrug of net aartappel gebruik, maar dis die heel lekkerste as jy albei gebruik.
Foto: Adam Cloete – Adrian Olivier
Nota: Almal maak egter maar sy eie aanpassings. Ek het gevind deur die eiervrug en aartappels in die mikrogolf gaar te maak in plaas van in olie te braai, maak die gereg minder olierig en dus nie so ryk nie en definitief gesonder. Dit is ook vinnig en baie minder moeite en dit was die geval met hierdie een. Adrian ook gekerfde sampioene en soetrissies in gesit.






