SJOKOLADEDOPPIES MET ROMERIGE SJOKOLADEVULSEL
DOPPIES:
150 g donker sjokolade, in stukkies gebreek
Sowat 20 klein papierdoppies
VULSEL:
250 g donker sjokolade, in stukkies gebreek
60 g botter
175 ml room
5 ml brandewyn
Plaas die sjokolade-stukkies in’n glasbak en mikrogolf 1-2 minute lank of tot die sjokolade gesmelt is. Roer na elke 30 sekondes met’n draadklitser, want die sjokolade hou sy vorm al het dit reeds begin smelt. Moet ook nie te lank mikrogolf nie, dan skroei die sjokolade.
Verf die binnekant van die papierdoppies met gesmelte sjokolade (met verfkwas) en plaas in die yskas om te stol – as jy dit oornag in die yskas kan laat, is dit selfs nog beter, want dan trek die papier makliker af.
Trek die papier versigtig af – pasop dat die sjokolade nie breek nie.
Plaas die sjokolade, botter en room vir die vulsel in ‘n glasbak en mikrogolf tot die mengsel gesmelt is, sowat 2 minute lank. Roer elke 30 sekondes. Voeg die brandewyn by, roer goed en plaas in die yskas totdat dit begin verdik – minstens ‘n uur.
Vul ‘n spuitsak met die vulsel. Spuit in doppies en verkoel tot net voor bediening.
Resep en foto: Judy Bester








