ROOMPOFFERTJIE SWANE
Ek het nog die reseppie. Moekie het so vormpie gehad met die swaantjie se dele daarop. Sy het dit dan met Roompoffertjiedeeg volgemaak en gebak. Wanneer dit koud was het sy die swaantjie gebou en gevul met room of karamelkondensmelk. Partykeer het sy die karamelkondensmelk onder in die pensie gesit en room bo-op dan moes ek eers die room uitkrap om by die karamel uit te kom. Die vlerkies het sy heel laaste ingedruk. As dit vervoer moes word, is die vlerkies eers op die tafels ingesit. Die Swaantjie se lyfie was in twee dele wat aanmekaar gesit is met bietjie versiersuiker.
ROOMPOFFERTJIES
Kook 1 koppie kookwater en ¼ lb botter.
Voeg 1 koppie Meelblom en ¼ teelepel sout by.
Roer vinnig, verwyder van hitte en laat afkoel.
Voeg 4 eiers een een by en klop goed na elke byvoeging.
Skep lepelsvol op ’n bakplaat of in vormpies.
Bak by 450 grade F vir 10 minute en verminder dan die hitte en bak vir 25 minute.
Laat goed afkoel, sny oop en vul met room of karamelkondensmelk of altwee.
Resep: Dollie Richards
Geplaas deur: Rhona Richards Peens








