

JURG SE GUNSTELING BRAAI HOENDER
My gunsteling braai resep
Stamp ‘n klomp vars roosmarynblare in ‘n vysel, gooi ‘n koppievol olyfolie oor, druk so 1 eetlepel VARS suurlemoensap daarin uit en rasper ‘n teelepelvol van die suurlemoen se skil daarby in. Laat oornag staan. Pak jou plat hoender (op die bors langs oopgesny) of porsies in ‘n bak en giet die spulletjie daaroor, blare en al. Maak seker dis goed versprei.
Laat so vir 3 ure marineer, lig die stukke uit en gooi die marinade af. Draai stukke om en gooi weer die marinade oor. Laat staan weer oornag in die yskas. Maak jou vuur en as die kole reg is, pak jy ‘n klomp nat roosmaryntakkies oor die kole, voor jy die rooster met stukke op die kole gooi. Die hoender rook behoorlik gaar, terwyl jy kort-kort met ‘n roosmaryntakkie van die marinade oor die hoender verf. Sprinkel ‘n bietjie sout oor kort voor dit gaar is, sodat die hoender se natuurlike sappe binne vasgevang bly.
Nou eet jy dit met vars roosterkoek en ‘n groen slaai saam.
Resep van Jurg Lubbe






