Goed, hier kom die rys-in-die-mikro. Net eers se, ek koop NOOIT ander rys as Tastic nie; 2kg kos om en by R20, maar jy kry 3 koppies gaar rys van ‘n koppie, en dit is dus dubbel-en-dwars die prys werd.
METODE VIR 1 KOPPIE RYS :
Gebruik ‘n lekker groot en diep mikrogolf-bak [met ‘n deksel, indien mooontlik] en gooi die koppie rys in.
Tap nou sommer BAIE water in die bak sodat dit amper vol is, maak nie saak hoe min die rys is nie – daar MOET nog water bo-oor die rys wees as dit klaar gekook het
Geen sout in hierdie stadium nodig nie.
Kook SONDER DEKSEL op hoog vir 25 minute. L.W. Indien jy die mikrogolf intussen dringend vir iets anders benodig en die rys het nog nie klaar gekook nie, haal dit enige tyd uit – kyk net hoeveel minute nog oor is sodat jy weet hoe lank dit later nog moet kook.
Wanneer die 25 minute om is, gooi die rys in ‘n vergiettes met klein gaatjies, of sommer in ‘n groot sif. Spoel die rys af onder die kraan en dreineer. Plaas terug in die oorspronklike bak en voeg nou ‘n gelyke teelepel sout by vir elke koppie rou rys en roer deur.
Plaas deksel op [of bord, of bedek met kleefplastiek] en verhit op hoog vir vier minute en bedien. As jy later eers die rys wil bedien, verhit weer in mikrogolf op hoog vir so drie-vier minute.
NOTA : 1. Die rys kan al die vorige dag gekook word en dan net in mikrogolf warm gemaak word voor opdiening – plaas in mikrogolf, verhit op hoog vir vier minute, roer deur en plaas terug vir drie minute.
2. Voeg 5 minute by die kooktyd vir elke ekstra koppie rys. Lekkerste vir my is dat ‘n mens maar vir eers van die rys kan vergeet, al is die kooktyd verstreke en jy is met iets anders besig – wanneer jy weer tyd kry, spoel die rys en volg metode daarvanaf. Lekker los, spierwit rys, jy kan nie ‘n flop maak nie. Onthou net, gebruik groot bak wat genoeg water kan hou.
BRON- Isobel Conradie
FOTO GEKRY OP DIE INTERNET