

MA SAAR SE PAASBOLLETJIES
Hierdie is ‘n familie resep en eintlik ‘n erfstuk, maar ek gaan dit deel. My oorlede ma se ma, (ook al oorlede) ouma Annandale het dit gebak (nog in koppies afgemeet, maar ek en my ma het dit verander na ml’s toe). Ek kon nog nêrens ‘n paasbolletjie eet soos hierdie nie. My Ouma het hierdie resep gebruik en my ma het dit aangepas en dit vervolmaak. Ek deel dit met julle, want ek weet hier sal iemand op hierdie blad wees, wat dit gaan waardeer nes ek, wanneer jy dit bak, neem asb ‘n foto en plaas dit (ai die sentiment!).
850 ml koekmeel
5 ml sout
5 ml gemengde speserye
knippie kaneel en neutmuskaat
60 ml “Stork” (ons gebruik deesdae “Stork Bake”)
25 ml suiker
12,5 ml gemengde skil
1 koekie suurdeeg (of 15 ml kitsgis)
5 ml suiker
2 eiers met 10 ml versiersuiker geklits, tot net gemeng
250 ml warm melk
2 eiers
Sif die meel en speserye saam, vryf die margarien by die meel in en voeg die 25 ml suiker en vrugte by. Meng die suurdeeg met die 5 ml suiker en voeg dit by die eiers en melk. Voeg die gismengsel by die meelmengsel en meng alles saam tot ‘n sagte deeg. Bedek die deeg met ‘n klam doek en laat dit rys op ‘n warm plek vir ‘n 1 ½ uur.
Knie die deeg liggies op ‘n meelbestrooide oppervlak, rol die deeg in balletjies en plaas die balletjies op ‘n gesmeerde bakplaat, bedek die deeg weer en laat dit weereens rys vir 20 – 30 min. Spuit die kruisie bo-op elke balletjie (ma het ‘n aparte degie aangemaak hiervoor, so slap ene).
Resep vir die kruise op die paasbolletjie:
60 ml koekmeel
15 ml olie
30 ml water
Meng die bestanddele tot ‘n gladde beslag. Spuit met ‘n versierbuis die kruise wanneer die bolletjies klaar gerys het.
Kwas die bolletjies met die geklitste eiermengsel. Bak die paasbolltjies in ‘n voorverhitte oond by 180ºC vir 20 min of tot bruin.
Lewer 27 bolletjies.
Nota – Die bolletjies vries baie goed
Resep: Wilma Josey Venter







Done