Maak dié ou gunsteling ’n slag op ’n ander manier gaar.Pap
900 ml warm water
60 ml sagte botter
Sout na smaak
250 g mieliemeel
250 ml gerasperde cheddarkaas
Vars gemaalde swartpeper na smaak
Tamatiesmoor
1 ui, fyn gekap
15 ml olie
1-2 knoffelhuisies, baie fyn gekap
1 x 410 g blik gekapte tamaties
125 ml water
30 ml tamatiepasta
3 ml sout
5 ml suiker
3 ml vars gemaalde swartpeper
10 ml gekapte, vars oreganum
1 x 500 g medium-dikte boerewors, in agt porsies gedraai en geknip
Pap: Gooi die warm water in ’n groot kastrol en voeg die helfte van die botter en die sout by. Roer tot die botter gesmelt is. Gooi die mieliemeel by en klits tot glad. Verhit oor lae hitte tot kookpunt terwyl geroer word en laat die pap prut tot dit gaar is. Haal van die hitte af, voeg die res van die botter, die cheddarkaas en die swartpeper by. Roer deur en sit die deksel op. Hou warm tot die wors gaar is.Wors: Sit die stukkies wors in ’n groot pan en giet ’n bietjie kookwater bo-oor. Verhit tot kookpunt. Bedek die pan en prut tot die wors amper gaar is. Verwyder die deksel, voeg nog ’n bietjie water by indien nodig en draai die worsies om. Braai nou oop tot die wors mooi bruin is. Hou aan om bietjies water by te voeg sodat die wors nie droog braai nie en sodat daar genoeg pansouse vorm. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n middelslag-oondbak met botter of olie. Skep die pap in die voorbereide oondbak en skep die worsies bo-op. Druk die worsies effens in die pap. Skep die pansouse oor en geur met sout en peper. Bedek en bak vir 20 minute tot die pap deurwarm is. Maak die tamatiesous terwyl die pap en wors in die oond is.
Tamatiesmoor: Braai die ui in die olie tot sag. Voeg die knoffel by en braai vir ’n paar minute. Voeg die tamaties, water, tamatiepasta, sout, suiker en swartpeper by en verhit tot kookpunt. Prut vir ongeveer 10 minute tot die sous geurig en afgekook is. Roer die oreganum by. Jy kan nou die tamatiesmoor oor die pap en wors skep en so verder bak vir sowat 15 minute of jy kan die sous afsonderlik saam met die pap-en-worsgebak bedien. Lewer ses porsies.
Foto: Adam Cloete








