TURKSVYBLADSEEP
Gebruik die blaaie van kaalbladturksvye. Die beste tyd om die seep te kook, is wanneer die blaaie geswel en sonder turksvye is. Indien blaaie met dorings gebruik word, moet dit eers afgeskroei word. Blaaie wat geskil is, lewer wit seep en ongeskilde blare lewer groen seep.
Sny 12,5kg blaaie in repe op. Smelt 6.5kg vet en voeg die blaaie by. Kook dit totdat die blaaie se vesels los raak, roer die mengsel aanhoudend. Skep die vesels met ‘n sif of lang vurk af. Los 1.5kg seepsoda in 7.5liter water op en voeg dit geleidelik by die mengsel. Kook dit anderhalf uur lank oor matige hitte en roer dit gereeld. Laat die mengsel tot die volgende dag staan. Sny die groot stukke kleiner en voeg 7.5 liter kookwater by. Kook die mengsel ongeveer ‘n uur lank vinnig totdat dit soos gom lyk en roer dit deurentyd. Giet dit in vorms wat met ‘n nat doek uitgevoer is en bedek ook die vorms. Sny dit na 3 dae in stene op en laat dit verder droog word.







