RAVIOLI BOLOGNAISE MET SALIE BRUINBOTTER
60 ml olyfolie
2 uie fyngekap
4 knoffelhuisies
250 g spek fyngekap
500 g maalvleis
200 g tamatiepasta
500 ml rooiwyn
1 (400 g) blik tamaties
1 hand vol origanum gekap
sout en peper
250 ml room
100 g broodmeel vir uitrol van pasta
60 ml botter
hand vol vars salie
100 g parmesaan vir oor strooi na die tyd
Verhit olyfolie in mediumgroot pot. Voeg uie en knoffel by. Roerbraai vir 3 – 5 minute. Voeg spek by en braai 5 minute. Voeg vleis by en roerbraai 5 – 8 minute of tot verbruin. Voeg tamatiepasta, rooiwyn en tamaties by. Roer origanum by en verlaag hitte. Laat prut vir 45 minute en roer elke 10 minute. Geur met sout en peper. Roer room by en prut nog 10 minute. Verwyder van hitte en laat afkoel.
Vir die pasta – Basiese pastadeeg:
670 ml broodmeel
4 eiers
10 ml sout
Meng meel, eiers en sout saam. Knie vir 8 tot 12 min of tot elasties op n meelbestrooide oppervlak. Draai toe in kleefplastiek en laat 30min rus voor jy dit met n pastamasjien uitrol
Verdeel deeg in 4 balle. Gebruik ’n pastamasjien en rol deeg uit met meel tot nommer 2 of met ’n koekroller tot ‘n dikte van 1 mm. Plaas velle pasta op skoon werkoppervlak met meel bestrooi. Skep eetlepels vol maalvleis 2 cm uitmekaar op twee van die pastavelle. Verf met koue water rondom maalvleis. Plaas tweede vel pasta bo-op en seël die pasta om die maalvleisbolletjies.
Gebruik ’n skerp mes en sny pastaporsies in netjiese sirkels, of gebruik ‘n koekiedrukker (10 cm) met ‘n kartelrand sodat dit lyk soos op die foto. Bring water tot kookpunt en plaas pasta in kookwater. Kook vir 3 – 5 minute of tot pasta gaar is. Dreineer. Plaas botter in ’n skoon pan en smelt terwyl die pasta kook. Laat botter prut tot dit begin verbruin, voeg salie by en verwyder van hitte. Plaas ravioli in opdienbak en skep warm saliebotter oor. Sit voor met parmesaan-skaafsels. Ravioli is gaar sodra dit op die oppervlak in die pot dryf.
FOTO: Wynand Chantelle Van Huyssteen









geskuif