WENKE – KOEKSODA EN GEBRUIKE
As jy aangebrande kos vinnig uit ‘n kastrol wil verwyder, kan jy dit vul met kookwater waarby twee eetlepels koeksoda gevoeg is.
Asyn of suurlemoen en koeksoda werk beter as handy-andi is ‘n bleik- en ontsmettingsmiddel.
Voeg ‘n klein bietjie koeksoda of suurlemoensap by om jellie vinniger te laat stol.
Plaas 1 koppie sout, 1 koppie koeksoda en 1 ketel kookwater in ‘n riool wat met vet verstop is. Die vetterigheid los dadelik op.
Hierdie spuitmiddel sal insekte verjaag sonder om hulle dood te maak en is baie veilig in die tuin.
Neem 20 Liter warm water, voeg 1 eetlepel koeksoda en 2 eetlepels Jeyes Fluid by.
Vlok een vyfde van ‘n steen blouseep in mengsel in en roer goed tot al die bestanddele opgelos is.
Indien troeteldier op die mat geurineer het, sprinkel koeksoda daarop. Los rukkie en stofsuig soos gewoonlik. Dit sal ook voorkom dat die dier weer daar urineer.
Kamme sal gou skoon kom as dit ‘n rukkie geweek word in warm water waarin 2 teelepels koeksoda opgelos is..
Koeksoda kan ook aan muf dele gevryf word om af te haal.
Wanneer ‘n by jou steek – Krap die by-angel met ‘n mes uit. Maak ‘n koeksodapasta en plaas dit op dit steekplek. Dit trek die gif uit.
Maak ‘n gevlekte warmfles skoon met 3 eetlepels koeksoda gevul met kookwater. Laat vir 15 minute, spoel en laat om droog te word.
Maak juweliersware skoon deur dit oornag te week in ‘n mengsel van koeksoda en asyn. Indien nodig, skrop liggies met ‘n ou tandeborsel. Dit verwyder alle vuilighede sonder om die stene, goud of silver te beskadig. Moenie perêls oornag week nie – net vir sowat ‘n uur.
Om ‘n gesnyde pampoen vars te hou, verwyder die pitte en bedek die binnekant met ‘n lagie koeksoda.
Om die ou reuk uit bottels te kry, vul met ‘n oplossing van water en koeksoda.
Om miere weg te hou, strooi koeksoda of borax poeier binne kaste en laaie.
Om slegte reuke uit skottelgoedwasser te verwyder – Strooi 4 eetlepels koeksoda onder die onderste rak en sit die wasser op spoel om die masjien vars te kry.
Om te verhoed dat staalwol roes, hou ‘n bakkie met water waarin koeksoda opgelos is by die opwasbak en sit die staalwol daarin na gebruik.
Sit ‘n bietjie koeksoda in die water om blomme langer vars te hou.
Sit bakkies met koeksoda orals in die huis (veral agter yskas, stoof, onder wasbak, ens.). Die kokkerotte eet dit (en dra dit na hul nes toe). Die vog binne hul lywe maak die koeksoda bruis en laat die kokkerot vrek. Dit voorkom ook dat ‘n volwasse kokkerot eiers lê voordat hulle doodgaan.
Stowe patats kry ‘n mooi kleur as ‘n mespunt koeksoda bygevoeg word terwyl dit kook.
Strooi koeksoda in skoene wat sleg ruik – Laat oornag staan.
Strooi koeksoda op die aangebrande deel in ‘n pot. Maak klam met ‘n bietjie water en skrop.
Suurlemoen gemeng met koeksoda maak gevlekte tande mooi wit.
Verwyder koffie- en teevlekke op plastiekware deur dit met koeksoda te skuur.
Volgende keer wanneer jou oond skoongemaak is, vryf ‘n pasta van koeksoda en water aan die binnekant van jou oond om dit volgende keer makliker skoon te vee.
Was die hare en spoel af met 1 eetlepel koeksoda opgelos in 500ml water.
BRON- BOERERATE en VERBRUIKERS-WENKE
Laurette Hitchcock
Hier is my wenk vir daardie gevlekte pot waarin jy kerrie gekook het. Warm water, eetlepel koeksoda, bietjie skottelgoed opwasmiddel en ‘n teelepel suiker. Meng in pot en laat staan so rukkie. Die vlekke verdwyn sommer vinnig!🤗







