As jy ‘n ryk vrugtekoek maak, voeg ‘n koppie warm, sterk koffie in plaas van melk by om die kleur van die koek te verdonker en die geur te verbeter.
As jy koek bak en jy sit dalk sonder eiers, gebruik asyn. 1 teelepel asyn is die ekwivalent van 1 eier. Veral belangrik as jy ‘n cholesterolvrye dieet volg.
Gebruik ‘n skêr wat eers in meel gedruk is om glansvrugte makliker in stukke te sny.
Voeg 5 ml Gliserien om enige koekmengsel ‘n ligter tekstuur te gee.
Voeg ‘n ¼ teelepel peper by jou gemmerkoekies om dit daardie effense brandsmaak te gee.
Klein koekies bly langer vars as jy ‘n laag suiker onder in die bak strooi.
Leë margarine papier kan gestoor word in ‘n bakkie of sakkie in die vrieskas tot bakdag. Gebruik die papier om al jou panne mee te smeer.
Moet nooit suurmelk weggooi nie. Dis uitstekend in gebak en maak deeg ligter as vars melk.
Om pannekoek of muffins op te warm – sit ‘n koppie water saam in die mikrogolf. Die ‘stoom’ bevogtig die gebak.
Om te keer dat appelkooskonfyt nie uit appelkooskonfyttertjies loop nie, klits 1 eierwit en 1 teelepel suiker goed en smeer aan rand.
Plaas ‘n stukkie plastiek oor deeg wat moet rys. Dit voorkom dat ‘n harde lagie vorm.
Smeer nuwe bakpanne met varkvet en plaas in matige oond vir 45 minute. Wanneer koud, vee af met kombuispapier.
Suiker en botter sal gouer meng as ‘n bietjie suurlemoensap bygevoeg word.
Voeg bakpoeier heel laaste by koekbeslag -die koek sal dan baie lig uitrys.
Voer jou koekiepanne uit met swaardiensaluminiumfoelie voor jy koekies bak. Dit voorkom dat die koekies merke laat.
Voordat jy klewerige bestanddele in ‘n maatbeker plaas, giet eers kook water in die koppie. Giet die water uit, maar moenie afdroog nie. Nou kan jy die stroop, grondboontjiebotter, ensovoorts afmeet en dit behoort maklik uit te loop.
BRON- BOERERATE & VERBRUIKERS-WENKE







