
SITRUS KOEDOE OF SPRINGBOK
koedoefilet of springbokrugstring van sowat 2,5 kg
gemaalde swartpeper
2 eetlepels olyfolie
sout na smaak
Sitrussous:
1 liter vars lemoenskap
1 teelepel suurlemoensap
3 stukke heel steranys
3 naeltjies
1 heel pypkaneel
10 peperkorrels
1 knippie sout
1 teelepel Maizena
Dis nie ‘n kitsdis nie, so begin sommer ‘n dag voor die tyd. Gee die peperpot ‘n paar draaie bo die olyfolie; meng die olie en peper en vryf die vleis daarmee. Besprinkel dit dan met sout en draai die vleis toe in kleefplastiek (cling wrap) .Sit die vleis in die yskas vir ‘n volle 24 uur sodat die geure kan intrek.
Op die groot kookdag, maak jy die sous so:
Sit al die bestanddele vir die sous in ‘n potjie en laat dit prut totdat die helfte daarvan weggekook het. Gooi die sous deur ‘n sif en dan terug in die potjie. Plaas dit weer op die hitte. Wanneer dit prut, roer jy die Maizena “ wat nou met ‘n bietjie water gemeng is “ by om die sitrussous te verdik. Nou haal jy die vleis uit die yskas minstens 2 uur voordat jy dit gaan braai. Braai dan die filet oor matige kole vir tussen 20 en 30 minute, afhangende van hoe jou mense van hul vleis hou. Wanneer dit gaar is, haal jy die vleis van die kole en laat dit rus vir sowat 10 minute sodat die sappe terug in die vleis kan intrek. Sny dit in skywe en bedien dit met die sitrussous.
Resep: Carol Elliot Claassen






