‘n Wen-reseppie vir SULT
(‘n Wyle terug vir my ingestuur deur ‘n anonieme leser)
Sowat 1,5 kg skenkelvleis en 4-5 skaaptongetjies, in ‘n pot geplaas met ‘n koppie droë witwyn en net genoeg water om die vleis te bedek. Hierby kom ‘n ui, twee wortels en twee selderystingels wat grof opgesny is, takkies roosmaryn, tiemie en pietersielie, ‘n paar heel swartpeperkorrels, naeltjies en sout na smaak.
Onthou net dat heelwat sout gebruik kan word, want die sult word koud geëet, en dit demp dan die geur van die sout.
Prut nou die pot so twee uur, totdat die vleis maklik van die bene afval. Haal die vleis uit en laat afkoel.Verwyder alle bene. Laat die vloeistof in die pot nog 15 minute lank vinnig kook.
Dit is jou eie keuse of jy die velletjies van die tongetjies wil afhaal. Vir my pla hulle nie, want hulle kook nogal baie sag. Maar dalk verkies diegene met ‘n fyner palet om die moeite te doen.(Ek, Retha, trek dit af, die velletjie maak die bron moeilik snybaar in sy koue vorm, en dit hoort eintlik af! )
Sny die tongetjies in skywe, plaas die vleis in ‘n bak waarin jou sult gaan set, of ‘n broodpannetjie, of ‘n poedingbak.
Giet eers die vloeistof waarin die vleise gekook het deur ‘n vergiettes en dan nog ‘n keer deur ‘n baie fyn sif.
Jy wil ontslae raak van enige stukkies wat ronddryf en as dit goed gesif is, gaan jy ‘n helderbruin sous hê, eintlik nes consommè. Daar behoort omtrent ‘n koppie en ‘n half hiervan te wees.
Omdat die bene wat ek hier gebruik het, nie veel gelatien afskei nie, moet ‘n bietjie kits-gelatien bykom. Hiervan neem ek drie teelepels en meng dit in ‘n bakkie met ‘n halwe koppie water. Dit staan so 10 minute om sag te word – dit stol eintlik heeltemal – en dan voeg ek dit by my steeds warm vleissous. Roer goed deur, proe of jy dalk nog sout nodig het en giet die sous oor die vleismengsel.
Plaas dit in die yskas en binne ses tot agt uur behoort dit goed gestol te wees. Oornag is die beste.
Om die sult uit die bak te kry, gly ek ‘n mes om die rand van die sult en ek plaas die bak ‘n paar minute in warm water.
Hou dan ‘n bord oor die bak, draai dit om, en die sult behoort sagkens uit te val. As dit nie wil nie, sit dit net weer in warm water.