STAP VIR STAP KERSHAM
1x 3 kg ham (of Gammon)
3 lourierblare
3 selderystokkies
20 swart peperkorrels
Heel naeltjies vir versiering
Glasuursel:
500 ml mangosap
125 ml gladde appelkooskonfyt
60 ml gepreserveerde gemmer, fyngesny
15 ml fyngerasperde suurlemoenskil
15 ml fyngerasperde lemoenskil
10 ml fyn koljander
Stap 1 is om die ham te kook en dit kan reeds die vorige dag gedoen word. Plaas die ham saam met die lourierblare, seldery en peperkorrels in ‘n groot pot en bedek met water. Bring tot kookpunt en prut dan stadig vir 2 ure. Laat die ham in die water afkoel voor dit verwyder word. Verwyder dan die buitenste vel met ‘n skerp mes en laat ‘n eweredige vetlaag.
Sny nou ‘n diamantpatroon in die vetlaag, maar nie te diep nie, stop voor jy by die vleisgedeelte kom. Druk ‘n naeltjie in die middel van elke diamantpatroon. Dit gaan baie mooi lyk en jou skoonma beindruk.
Voorverhit die oond tot 180ºC. Plaas die ham in ‘n oondroosterpan en bak vir 1 uur. Intussen meng die bestanddele vir die mooi blink lagie in ‘n swaarboomkastrol. Laat dit stadig prut vir 10 minute en roer gereeld tot dit effens verdik.
Verwyder die ham uit die oond en verf die sousie versigtig oor die ham met ‘n pasteikwassie. Plaas terug in die oond en bak ‘n verdere 30 minute terwyl jy in die tyd dit elke 5 – 10 minute bestryk met die glasuursel. Jy kan dit nog ‘n rukkie langer bak en bestryk, tot jy tevrede is met die eindresultaat. Dit moet pragtig blink en goudbruin wees.
Bedien warm of teen kamertemperatuur met tradisionele bykosse bv. gestoofde droë vrugte, braaiaartappels, gegeurde rys en helderkleurige groentes.
Louise Groenewald aka Smulpaap – Tyger Burger Desember 2012