

SJOKOLADE VERSIERSEL MET MIELIEBLOM
Ek het dit al gemaak en dit is absoluut fantasties, dit is soos ganache. Dit is oorspronklik Mej Joubert van Bonnievale se resep.
1 koppie suiker
50 ml mielieblom
50 ml kakao
7 ml kitskoffiepoeier
375 ml water
50 ml botter of margarien
Meng alles saam in boonste deel van dubbele kastrol (ek het myne alles net in gewone kastrol gedoen).
Plaas dit op kokende water en roer aanhoudend totdat die mengsel dik is, dit duur ‘n rukkie.
(ek het dit op medium hitte in gewone kastrol verhit en ja dit neem ‘n lang tyd se roer totdat jy die regte dikte kry maar dit is die moeite werd.)
Laat die mengsel effe afkoel en smeer oor koek, myne het ek bo-oor die koek laat loop teen die kante af.
Dit is nie so soet soos gewone versiersel nie, dit proe of daar sjokolade in is.
Resep: Erina Dell
Foto en nota – René de Bruin: Ek’t hierdie ganache gemaak op die stoofplaat in ‘n gewone pot, maar ek’t kookwater gebruik. Dit het redelik vinnig gegaan en dis heerlik. Genoeg vir 1 grootkoek.






