SJOKOLADE ECLAIRS
Basiese deeg (16 eclairs)
1 koppie kookwater
½ koppie botter
¼ teelepel sout
1 koppie gesifte koekmeel
4 eiers
Verhit oond tot 190 ºC. Gooi die water, botter en sout in ‘n kastrol en verhit totdat dit net-net kook. Voeg die meelblom by (alles gelyk). Klop die mengsel dan oor lae hitte totdat dit los kan van die rande van die kastrol en ‘n bol vorm.
Haal die kastrol van die stoof af en klop die deeg nog 2 min. Voeg nou die ongeklitste eiers een vir een by en klop baie deeglik na elke byvoeging. Skep opgehoopte eetlepels vol van die deeg op ‘n ongesmeerde bakplaat (omtrent 6 dm uitmekaar). Vorm elke bol degie langwerpig of spuit deeg deur ‘n groot versierbuis.
Bak die eclairs omtrent 45 min by 190ºC. Haal uit oond, sny dadelik ‘n klein spleetjie in elke eclair. Plaas die pan terug en bak nog vir 10 min. Haal uit. Sny die eclairs in helftes (nie heeltemal nie, maar sodat die boonste helfte ‘n deksel vorm) en vul met slagroom of sjokolademengsel. Ons het sjokoladepoeding gebruik wat van ‘n pakkie poedingpoeier aangemaak is. Versier die eclairs dan met sjokoladeversiersel.
Sjokoladeversiersel:
Smelt 2 blokkies onversoete sjokolade of 2 onse en 2 e botter in 4 e warm water in die bo-deel van ‘n dubbele kastrol oor warm water. Haal van die stoof af en roer dan 1 ½ k gesifte versiersuiker daarby. Skep oor eclairs en laat styf word.
Carin Ras Wilson
Foto: Cheryl Ann Maggott Ross







