
PAELLA VIR ‘n FEES
(6-8 PORSIES)
30 ml margarine
30 ml kooklolie
2 hoenderborsies, bene en vel verwyder en in blokkies gesny
2 frankfruters in ringetjies gesny
1 ui in skywe gesny
1 knoffelhuisie fyngekap
1 blik tamaties gedreineer en gekap
1 rooi soetrissie ontpit en gekap
5 ml sout
3 ml vars gemaalde swartpeper
5 ml paprika
500 ml rou rys
750 ml water
15 ml suurlemoensap
2 ml borrie
175 ml bevrore ertjies
250 g steurgarnale of garnale doppe verwyder en skoongemaak
250 g mossels skoongemaak
125 g calamari in ringe gesny
15 ml gekapte pietersielie
Verhit die margarine en olie in die braaipan of paella-pan. Braai die hoender en worsies tot ligbruin en verwyder. Braai nou die ui en knoffel tot die ui sag is, maar nie bruin nie. Voeg die tamaties, soetrissie sout, peper en paprika by en kook ongeveer 12min tot die mengsel verdik. Voeg die rys by en roer aanhoudend. Braai 3 min. Voeg nou die water, suurlemoensap en borrie by, bedek en prut 15 min terwyl dit af en toe geroer word. Voeg die ertjies, en seekos by en plaas die hoender en worsies weer in die pan. Roer liggies met ‘n vurk. Bedek en laat nog 10min kook of tot al die vloeistof geabsorbeer is en die seekos gaar is. Sprinkel pietersielie net voor bediening op. Sit voor met ‘n slaai.






