MIKROGOLF-GESONDHEIDSBESKUIT
Lewer 60 vingerbeskuite
250 ml (1 koppie) laer-GI-hawermout
500 ml (2 koppies) koekmeel, gesif
25 ml (5 teelepels) bakpoeier
5 ml (1 teelepels) koeksoda
500 ml (2 koppies) semels
500 ml (2 koppies) hoëvesel-ontbytgraan*
500 ml (2 koppies) volgraan-ProNutro* (‘original’ of ‘apple bake’)
250 ml (1 koppie) suiker
5 ml (1 teelepel) sout
250 ml (1 koppie) sultanas
2 appels, geskil en gerasper
100 ml canola- of olyfolie*
1 liter (4 koppies) vetvrye gewone of vrugtejogurt*
250 ml (1 koppie) afgeroomde melk*
2 eiers
5 ml (1 teelepel) vanilla geursel
Meng al die droë bestanddele met ’n houtlepel in ’n groot bak. Gebruik die houtlepel om die mengsel ’n paar keer met ’n opligbeweging te belug. Voeg die sultanas en gerasperde appels by en roer tot gemeng.
Meng die olie, jogurt, afgeroomde melk, eiers en vanieljegeursel in ’n groot beker. Voeg by die droë bestanddele.
Gebruik ’n houtlepel en meng die vloeibare bestanddele met die droë bestanddele tot net gemeng.
Skep die deeg in 2 reghoekige mikrogolfbakke (bv. Tupperware-broodhouers, 27 cm x 22 cm, of glasbakke van dieselfde grootte) wat met koeksproei bespuit en met papierhanddoek gevoer is.
Mikrogolf elke houer 18-20 minute lank op hoog.
Maak seker dat die bokant van die beskuit nie meer klam is wanneer jy dit uit die mikrogolfoond haal nie. As dit nog klam is, mikrogolf nog 10 sekondes op ’n keer tot geseël bo-op.
Keer die bakpan op ’n afkoelrak om. Trek die papier versigtig af en laat die beskuit 20 minute lank afkoel voordat jy dit in jou vingers sny.
Sny elke broodpan se inhoud in 30 vingers en droog die beskuit in ’n stadige oond (2-3uur lank by 100ºC) uit.
Die resep kan met welslae gehalveer word vir ’n kleiner baksel.
Dieetkundige se aantekeninge
• Die beskuit is uitstekend as ’n lae-GI-maaltyd of –versnapering voor oefening, omdat dit nie die daling in bloedglukose ná oefening help teëwerk.
• Die lae GI en lae Glukemiese Lading van dié beskuit maak dit ook ’n ideale versnapering vir diabete, kinders met AGS en mense wat aan hipoglukemie ly.
Resep geplaas deur Jenny van der Westhuizen