MAAK JOU EIE MAASKAAS
Maak jou eie Maaskaas van afgeroomde melk!
Mens vat net soveel afgeroomde melk as wat jy kan kry, laat dit DIK word, en ek bedoel ordentlik dik – sommer totdat die vaste melkgedeelte en die wei skei. Die dik deel dryf dan bo. Gooi die vloeistofgedeelte af en skep dan die dikmelk deel in ‘n gaasdoeklap (cheese cloth material).
Vou dit toe maar hou die punte bymekaar en draai dan die lap soos mens sal maak om die meeste van die water uit die dikmelkgedeelte uit te pers. Hou die punte so opgedraai en plaas dit in ‘n sif oor ‘n bak en plaas ‘n swaarderige gewig bo-op. Laat dreineer so oornag.
Die volgende dag moet jy die lap weer opwen sodat daar nog van die vloeistof kan uitpers as dit kan. Sit dit weer in die sif en sit iets swaar bo-op om te pers. As jy dink dis nou droog genoeg, maak oop, gooi in bak en gooi by wat jy wil – fyn grasuie, knoffelsout, enige gegeurde sout, net wat vir jou lekker is en geniet dit saam met jou broodjie. Ek sny vir my dun snytjies komkommer daarop – heerlik! Hou dit net in die yskas, want dit is mos nou nie soos die gekooptes wat vir baie lank sal hou nie.
Gerdie van Zyl







