WORTEL KOLWYNTJIES (VEGAN)
Ek het die lekkerste vegan wortelkoek kolwyntjieresep ontwikkel wat so ‘n klein bietjie gesonder is. Dit bevat 75% minder vet en 75% minder suiker as ‘n tradisionele wortelkoek.
Meng die volgende saam:
1 koppie koekmeel
1 koppie volkoringmeel (nutty wheat), of gebruik altesaam 2 koppies koekmeel as jy nie volkoringmeel het nie
5 ml bakpoeier
5 ml koeksoda
5 ml droë gemmer
5 ml droë kaneel
1,25 ml (kwart teelepel) droë neutmuskaat
1,25 ml (kwart teelepel) sout
250 ml rosyne
Neem nog ‘n mengbak en plaas die volgende bestanddele daarin:
625 ml (2 ½ koppies) grof gerasperde wortel
85 ml (derde koppie) kook-of-Canola olie
190 ml (¾ koppie) vars uitgedrukte lemoensap
125 ml bruinsuiker (of wit as jy nie bruin het nie)
Meng hierdie nat bestanddele saam.
Voeg die inhoud van die bak droë bestanddele by die nat bestanddele.
Meng goed met ‘n sterk lepel – die mengsel is baie styf en moet so wees. Plaas 12 kolwyntjie papiertjies in die holtes van ‘n muffin pan.
Spuit liggies met kleefwerende kossproei sodat dit nie bo-op vassit nie. Verdeel die deeg tussen die 12 papiertjies en druk effens gelyk bo-op sodat hul mooi vertoon. Bak in ‘n voorverhitte oond teen 180°C vir 25 minute. Haal uit die oond en los vir 5 minute. Verwyder kolwyntjies uit muffin pan en plaas op ‘n draadrakkie om heeltemal af te koel.
Maak nou jou versiersel:
30 ml gesmelte margarien
500 ml versiersuiker
bietjie water
Klits die margarine en versiersuiker baie goed en drup bietjie-bietjie water by om ‘n gladde, smeerbare versiersel te maak. Verdeel tussen die 12 kolwyntjies en smeer dit oor met die agterkant van ‘n teelepel.
Vir versiering benodig jy:
1 pakkie okker-of-pekanneute (ek het ‘sprinkle nuts’ gebruik want dis vrek goedkoop)
Kap neute en plaas in ‘n bordjie.
Keer kolwyntjies om en druk liggies in die neute sodat dit aan die versiersel vassit.
Bewaar kolwyntjies in ‘n lugdigte houer.
Resep en foto’s: Malcolm Wilson