

KITI SE PERSKE SNIPPER KONFYT
Wat mens doen as jy in die buiteland bly en nie meer jou lag kan hou van lus vir heelperske konfyt nie? Dan koop jy ‘n blikkie fynperske by die SA shop, ‘n kilo of wat peperduur taaipit geelperskes (dis skaars hier, ons kry net gewone lospit en nectarines) en dan kook jy dit sommer so in die konfyt met ‘n groenappel by vir pektien. Ek sweer hulle gooi gelatine by die blikkies konfyt, wou na die tyd nie weer stol nie selfs in yskas, toe home-made pectine ek dit met een groen appel gekook en deurgesyg. Die rede vir die blikke se byvoeg, dis meer konfyt vir minder perskes. Daai goed kos in julle geld R40 per kilo!
Resep:
Een blikkie fyn perskekonfyt, so 400 g
1.5 kg geel taaipit perskes, geskil en in skyfies gesny
Weeg perskes en voeg dieselfde gewig suiker by.
Kook (apart) een groen appel saam met die skille en pitte van die perskes tot pap.
Syg (reg gespel, mens syg nie suig nie) deur ‘n kaasdoek. Moenie druk nie, net die sappies.
Kook nou tot dik. Dan gooi jy hierdie mengsel saam met die perskes/suiker in ‘n pot en kook tot perskes net sag is.
Voeg nou die blikkie perskekonfyt by. Kook tot warm en bottel in gesteriliseerde bottels.
Resep en foto: Kiti Citi






