

NINA SE KAAPSE VRUGTE POEDING
Vrugte:
8 appels – geskil, ontstronk en in wiggies gesny
2 pere – geskil, ontstronk en in wiggies gesny
¼ teelepel fyn gerasperde suurlemoenskil
1 teelepel gemmer
suurlemoenstoop of water om die vrugte te bedek en in te kook
Koek:
½ koppie botter
1 ½ koppies suiker
3 eiers
2 koppies koekmeel
1 teelepel bakpoeier
1 teelepel koeksoda
ongeveer 124 ml melk
Sous:
¼ koppie botter
1 koppie suiker
250 ml room
1 sakkie rooibostee (opsioneel)
Plaas die vrugte in ‘n geskikte pot en bedek dit met suurlemoenstroop of water. Voeg die gerasperde suurlemoenskil en gemmer daarby en stoom of kook dit tot sag.
Meng die bestanddele vir die koek en voeg genoeg melk daarby om ‘n nie te stywe beslag te vorm. Plaas die sag gekookte vrugte in ‘n gesmeerde oondbak, giet die beslag eweredig daaroor en bak by 180ºC vir ongeveer 45 minute tot ‘n toetspen skoon uitkom.
Smelt die ¼ koppie botter en 1 koppie suiker op die stoof saam met die 250 ml room.
Indien verkies kan ‘n rooibos teesakkie daarby gevoeg word vir geur.
Prik gaatjies in die koek sodra dit uit die oond kom en giet die sous bo-oor die warm koek.
Bedien met vla indien verkies.
Resep geplaas deur Nina Meyer
Foto: Nina Meyer






