

MA NOOI SE SOETKOEKIES
Resep en Foto: Landi Hartzenberg Ferreira
FOOD LOVERS RECIPES
Die Gemmerkoekies wat ek gister gebak het, het my so gemotiveer dat ek my skoonma se Soetkoekie resep gaan soek het. Sy het hierdie resep seker amper 20jr gelede vir my gegee en ek het hom bewaar, maar net nooit die resep probeer nie. Wat ‘n fout!! Haar resep is ‘n grootmaat resep en het ek die resep halveer en weer halveer net ingeval dit ‘n flop kom met die NZ meel ens. Ek gee ook die mates wat ek vandag gebruik het. Die “Metode” gedeelte is vreeslik uitgebrei, maar dalk help dit iemand wat soos ek, nog nooit voorheen kleinkoekies gebak het. Skoonma se “Metode” gedeelte was 3 kort sinnetjies lank en moes ek maar improviseer. Ek is geensins ‘n bobaas bakster so die voorslag baksters moet my asb raad gee as hul voel daar is fout met hoe ek te werk gegaan het.
(GROOTMAAT):
16 koppies bruismeel
8 eiers
1 kg Stork margarien
8 koppies suiker
sout na smaak
10 ml vanilla geursel (haar resep gee nie hoeveelheid)
(KLEINMAAT):
4 koppies bruismeel
2 eiers (ek het baie groot eiers gebruik – NZ nr. 8)
250 g botter (nie margarien), kamertemperatuur
2 koppies suiker
5 ml vanilla geursel
2 knippies sout
Metode wat ek gevolg het vir KLEINMAAT koekies:
Voorverhit die oond tot 180 ºC.
Spuit ‘n paar bakplate met Spray & Cook of smeer liggies met botter.
Vryf die botter in die meel en sout in totdat dit soos fyn, sagte broodkrummels lyk (ek het dit sommer in die voedselverwerker gedoen).
In ‘n groot mengbak, klits die suiker en botter tot lig en romerig met elektriese handklitser. Die suiker hoef nie opgelos te wees nie, maar die mengsel moet dik, wit en romerig wees. Voeg die vanilla essence by en klits tot goed gemeng.
Voeg ongeveer ‘n derde van die meelmengsel by die eiermengsel en meng deur met ‘n houtlepel. Voeg nog ‘n derde van die meelmengsel by en meng goed. Hier het ek al begin meng met my hande. Voeg nou die laaste derde van die meelmengsel by en meng en knie liggies met die hande om alles bymekaar te bring. Op hierdie stadium het die deegmengsel vir my bietjie droog gelyk, maar ek het besluit om die deeg ‘n bietjie te laat rus eerder as om nog meel by te gooi; so ongeveer ‘n halfuur.
Sprinkel werksoppervlak goed met meel en rol nou die deeg ongeveer so 3 mm dik uit. Vee sommer so bietjie meel oor die koekroller ook. (Ek het die deeg in sarsies uitgerol en nie alles op een slag. Rol eerder liggies, maar baie as wat jy jy hard rol en die deeg plat druk met die roller). NS – ek het die wenk gekry om nie meel te strooi en die deeg eerder tussen twee lae sterk plastiek (bv sterk plastiese sak) te sit en uit te rol.
Druk nou jou verlangde vormpies uit en pak op ‘n bakplaat en bak op die middelste oondrak vir so 8-10 minute. Ek verstaan dat ‘n soetkoekie nie bruin gebak moet word nie so hy moet blekerig wees (my man sê so).
As jy verglansde kersies (glazed cherries) of 100s & 1000s wil opsit, moet jy dit doen voor jy dit bak.
Laat die koekies so paar minute rus op die bakplaat en pak oor op ‘n afkoelrakkie.
Versier soos verkies (met bv. sjokolade) of laat dit net so.






