

SAGTE KOEKIES MET KARAMEL
2 x 360 g-blikke karamelkondensmelk
250 g (270 ml) botter
250 g (310 ml) suiker
2 eiers, geklits
250 g (445 ml) koekmeel
250 g (520 ml) mielieblom
5 ml bakpoeier
1 ml sout
Verkoel karamel in yskas, verkieslik oornag. Dis dan minder geneig om te vloei wanneer dit as vulsel gebruik word.
Verhit oond tot 180 °C.
Plaas botter en suiker in ’n elektriese menger se bak. Verroom tot lig.
Voeg eiers by en meng goed. Sif droë bestanddele saam en voeg by bottermengsel. Meng tot deeg vorm.
Plaas in spuitsak met ’n roos-spuitstuk.
Spuit ronde koekies van 5 cm in deursnee so 3 – 4 cm uitmekaar op ’n uitgevoerde bakplaat.
Plaas in oond en bak 15 minute. Haal uit en laat afkoel.
Skep koue karamel in spuitsak en spuit op een koekie. Bedek met nog ’n koekie. Sif versiersuiker oor.
Foto: Marika Tegmann






