

YSKAS KOEK
Ek het hierdie gemaak. Alhoewel ek baie lief is vir Tennisbeskuitjies, is hierdie net vir my effe té veel. Het omtrent 2½ pakkies gebruik. Ek gaan dit weer maak, want die vulsel smaak heerlik (al is daar rou eier in tot my dogter se misnoë). So volgende keer gaan ek die beslag net in 2 deel en nie 3 nie, sodat die vulsel bietjie dikker is en die beskuitjies nie die smaak so oorneem dat jy nie die vulsel proe nie. Mens kan dalk bietjie suurlemoensap in die vulsel ook probeer.
250 g margarien
250 ml suiker
2 eiers
500 g maaskaas (2 bakkies van 250 g)
20 ml vanilla
3 pakkies tennis beskuit
± 10 kersies, kleiner gesny
Meng margarien en suiker tot romerig, voeg geklitste eiers by en klop goed met ‘n houtlepel. Voeg maaskaas en vanillia by en kersies, meng baie goed tot romerig. Neem nou ‘n vierkantige glasbak, voer uit met foelie van onder tot teen die kante en laat ‘n redelike stuk oorsteek om die tert makliker uit te kry na dit gevries is. Pak ’n laag beskuitjies heel onder, maak seker die hele bodem is bedek.
Vat ‘n derde van die mengsel, skep oor beskuitjies, bedek dit heeltemal. Dan vulsel, dan weer beskuitjies. Maak drie lae en eindig bo met beskuitjies. (Ek gaan volgende keer net 2 lae maak) Sit in vrieskas om hard te stol, haal uit, sny in skywe en eet koud. Die res moet in die vrieskas bly.
Resep geplaas deur Stien Rust
Foto: Stien Rust






