

GESTOOFDE VARKRIB IN DIE SWART POT
Vir die droë invryf speserymengsel:
1 ½ eetlepel paprika (ek het gerookte paprika gebruik)
1 eetlepel bruin suiker
1 eetlepel mosterd poeier
1 eetlepel gedroogde gemengde kruie
Vir die stowe vloeistof:
Ongeveer 1 kg vark rib
2 uie, in skywe gesny
4 knoffeltoontjies, fyngekap
2 wortels, klein opgekap
1 koppie hoenderaftreksel
1 koppie bier
¼ koppie appelasyn
2 lourierblare
‘n bietjie Tobasco sous of enige sterk sous van jou keuse (dit is opsioneel en die hoeveelheid is na smaak)
sout na smaak
Vryf die droë speserymengsel in die vleis in, bedek en plaas in die yskas vir ten minste 4 ure. Verhit ‘n klein bietjie olie in ‘n plat ysterpot tot baie warm. Sprinkel sout oor die vleis en seël dit aan alle kante in die warm olie in die pot. Verwyder die vleis van die pot, bedek en hou eenkant. Braai die uie in dieselfde pot tot deurskynend en voeg die knoffel by. Roer die knoffel deur die uie tot dit geurig raak en voeg dan al die ander bestanddele vir die stowe vloeistof by. Bring tot kookpunt en plaas die vleis terug in die pot. Bedek die pot en laat liggies prut vir ongeveer 1 uur en 45 minute, afhangende van hoe groot of dik die rib is, of tot die vleis van-die-been-af sag is.
Ek het baba aartappeltjies en botterskorsie skywe 45 minute voor die einde van die kooktyd in die pot gesit om saam te kook.
Die sous lyk baie, maar glo my dit is so lekker dat jy sal moet sorg dat daar genoeg rys en vars gebakte brood is om daarmee saam te gebruik, anders gaan dit nog te min ook wees.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto Adam Cloete.






