

ARM-MAN LASAGANE OP DIE STOOF
500 g maalvleis
1 ui, gekap
1 knoffelhuisie, gekap
5 medium wortels, gerasper
1 blikkie baked beans
30 ml tamatiepasta
30 ml suiker
30 ml asyn (wit/bruin is reg)
sout en swartgemaalde peper
5 ml tiemie
5 – 10 ml pietersielie
250 g lasagnevelle
250 – 500 ml gerasperde kaas
125 ml koekmeel
100 ml botter/margarien
1 liter melk
Gebruik ‘n pot/pan met ‘n 2 liter of groter kapasiteit en roerbraai die maalvleis, ui en knoffel tot ui deurskynend is en vleis nie meer pienk is nie. Gooi die gerasperde wortel, baked beans, tamatiepasta, asyn, suiker en 2 koppies kookwater asook die sout en peper by. Laat prut stadig vir ongeveer 30 minute totdat sous begin verdik, maar moenie laat droog kook. Gooi nog water by indien nodig. Gooi nou die tiemie by en roer deur.
Witsous
Plaas die botter/margarien in ‘n mikrogolfvaste bak in die mikrogolfoond vir 30 – 60 sekondes. Gooi die melk, asook sout en peper by en klits met ‘n draadklopper. Mikrogolf op 100% krag vir 2 minute, haal uit en klop met draadklopper. Herhaal die mikrogolfproses totdat die witsous begin dik word.
Skep die maalvleis uit die pot/pan. Pak dan ‘n laag lasagnevelle op die bodem van die pot/pan. Skep maalvleis oor en dan witsous, pak dan weer ‘n laag lasagnevelle, maalvleis en witsous totdat al die bestanddele klaar is. Rond af met gerasperde kaas en sprinkel pietersielie oor. Plaas deksel op pot en prut op die laagste hitte vir ongeveer 15 – 20 minute. Skakel stoofplaat af en laat pot rus vir 20 – 30 minute. Bedien lasagne met knoffelbrood en mengelslaai.
Resep en foto: Gillian Vermeulen






