

SUID-AFRIKAANSE WATERBLOMMETJIE SLAAI
Stoom die blommetjies tot sag, dreineer en laat goed afkoel. Sprinkel vars suurlemoensap en gerasperde suurlemoenskil oor, en laat dit oornag marineer in die yskas.
Voeg die volgende so 2 ure voor opskeptyd by:
gestoomde groenmielies van die stronk afgesny
fyngesnyde klam beesbiltong en wildsdroëwors-skyfies
gehalveerde druiwekorrels
blokkiesgesnyde wit kaas (die sagte een wat in ‘n papier toegevou verkoop word – jammer die naam ontgaan my nou!)
grofgemaalde swartpeper en ‘n bietjie varsgemaalde growwe seesout
Sprinkel genoeg olyfolie oor. As ek dit in blomseisoen kan maak, gooi ek sommer ‘n handvol van die Kaapse langsteel geel suringblommetjies ook bo-oor vir kleur. Ja, dit word saamgeëet, want die waterblommetjies se geur word gekomplimenteer met die surings.
Resep geplaas deur Carlien Coetzee
Foto: Carlien Coetzee






