

ALLES-IN-EEN ONTBYTBESKUIT
Resep geplaas en foto: Wilma Batt
FOOD LOVERS RECIPES
1 kg bruismeel
10 ml bakpoeier
10 ml sout
500 ml bruinsuiker
250 ml sonneblomsaad
250 ml lynsaad
125 ml sesamsaad
100 g (250 ml) pekanneute, grofgekap
250 ml hawermout
125 ml droë klapper
500 ml semelvlokkies (all bran flakes)
2 ekstragroot eiers
500 ml karringmelk
500 ml canola olie
Voorverhit die oond tot 180 ºC. Voer 2 standaard bakplate met kleefvrye bakpapier.
In ‘n baie groot mengbak, meng die bruismeel, bakpoeier, sout, bruinsuiker, sade, neute, hawermout, klapper en semelvlokkies met ‘n houtlepel.
In ‘n kleiner mengbak, klits die eiers, karringmelk en canola olie. Skep dit by die droë bestanddele en meng goed. Hier het jy ‘n bietjie “elbow grease” nodig, want die mengsel is swaar. Roer totdat daar geen droë dele sigbaar is nie.
Verdeel die mengsel gelykop tussen die twee bakplate. Gebruik nat hande om die mengsel eweredig te versprei tot in die hoeke, en druk dit netjies plat (‘n ander opsie is om nog ‘n laag kleefvrye bakpapier bo-op te sit, en ‘n koekroller te gebruik om dit eweredig te versprei deur te plat te rol – verwyder die boonste laag papier voor jy dit bak).
Bak die twee panne teen 180 ºC vir 35-40 minute tot goudbruin. Indien jou oond oneweredig bak, ruil die twee plate om teen halftyd.
Verwyder uit die oond en keer versigtig om op draadrakke om af te koel.
Gebruik ‘n skerp lang broodmes om die reghoeke op te sny – ek sny dit in drie rye in die lengte, en dan in 2cm breë vingers. Pak die vingers direk op die oond se draadrakke, effens uitmekaar, en droog uit vir 3 ure teen 90º C (as jy naby die see woon, sal jy dalk jou temperatuur moet aanpas tot 100ºC).
Skakel die oond af en maak die deur oop sodat die beskuit kan afkoel. Wanneer dit kamertemperatuur is, pak dit in ‘n groot digsluitende plastiekhouer (ek gebruik ‘n vierkantige 9,5 liter Addis bak en vul dit ongeveer ¾ vol). Die beskuit sal goed hou op die rak vir minstens 4 weke.







Geskuif