

KEFTEDES – GRIEKSE FRIKKADELLE
1 kg maalvleis
2 baie fyngekapte of gerasperde medium grootte uie
2 fyngemaakte knoffeltoontjies
¼ koppie gekapte vars pietersielie
1 eetlepel gedroogte kruisement
1 ½ eetlepel oregano
1 koppie broodkrummels
½ koppie melk
1 lig geklitste eier
2 eetlepels gerasperde kaas
sout en swart peper na smaak
Voeg al die bestanddele bymekaar in ‘n groot mengbak en meng baie deeglik. Bedek met kleefplastiek en plaas in die yskas vir ten minste 1 uur. Hoe langer hoe beter vir die geure om behoorlik bymekaar te kom. Rol die mengsel in nie te groot balletjies en plaas dit in ‘n oondbak wat met olyfolie gesmeer is of met ‘n kleefwerende middel gespuit is. Bak by 190ºC vir ongeveer 40 minute en draai die frikkadelle halfpad deur die baktyd om. Laat effens afkoel voor dit bedien word. Die frikkadelle kan ook koud bedien word.
Wenk: Vir ‘n baie unieke Griekse smaak, kan ‘n eetlepel Ouzo by die mengsel gevoeg word.
Notas:
Die frikkadelle maak nie ‘n eie sous in die oondbak nie. Afhangende van die bykos sal dit nodig wees om ‘n aparte sous daarby te bedien indien dit vir ‘n hoofgereg gebruik word. Tradisioneel word dit met Tzatziki bedien.
Jy kan dit ook op die meer tradisionele manier in vlak olie op die stoof in vlak olie bak. Dan kan jy net die frikkadelle eers in meel rol, die oortollige meel afskud en dan normaalweg tot goed verbruin aan alle kante, in die olie bak.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete






