

NOORWEEGSE AARTAPPEL KLUITJIES – POTETBALL
Tradisioneel word hierdie kluitjies saam met rooivleis soos takbok of beesvleis, bedien en die kluitjies word saam met die vleis in baie water gekook. Dit word ook met gerookte worsies, bacon of ander rooivleis gestop. Ek het dit egter aangepas deur hoender te gebruik.
1 kg medium grootte aartappels, geskil en gerasper
2 medium grootte aartappels, geskil, saggekook en fyngemaak.
2 teelepels sout
1 ½ koppies koekmeel
3 hoenderborsies
1 gekapte ui
Stoom of kook die hoender gaar in ongeveer 3 liter water saam met die gekapte ui, met geursel van jou keuse. Ek het 1 eetlepel gedroogde Oreganum en ‘n knippie sout gebruik. Dreineer en laat afkoel. Hou die aftreksel waarin die hoender gekook het.
Meng die gerasperde aartappels, gekookte aartappels, meel en 2 teelepels sout tot ‘n taai deeg en vorm groot balle daarmee. Ongeveer so groot soos die binnekant van jou handpalm. Ontbeen en breek die hoenderborsies in stukkies. Plaas ‘n bietjie gepluisde hoender in elke balletjie en vou behoorlik toe. Bring die hoenderaftreksel tot net onder kookpunt in ‘n groot kastrol. Dit moet baie liggies prut en plaas dan die aartappel balle een vir een in die vloeistof. Bedek en laat so stadig prut vir 1 uur. Indien die water vinnig kook kan die kluitjies uitmekaar val.
Indien jy verkies kan jy groente soos wortels, saam met die kluitjies in die water sit. Omdat die water amper nie kook nie, sal dit ook baie stadig saam met die kluitjies gaar word.
Vir ‘n sous het ek ‘n pakkie Rich savoury sous poeier gebruik en dit in die plek van meel gebruik om ‘n gewone witsous te maak. Dit het ek met 2 eetlepels gesmelte botter in ‘n kastrol gemeng en in plaas van melk het ek 300 ml van die vloeistof gebruik waarin die kluitjies gekook het, saam met 2 eetlepels sherry, wat ek daarby gevoeg het om ‘n slap sous te maak.
Die kluitjies het ek saam met die hoenderstukkies en die gekookte wortels op ‘n opdienbak rangskik en die sous bo-oor gegiet.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete






